News

Jong Rall van Riebeek kry BSc in fisika op 17

Een van die Swartland se jong sterre wat drie jaar gelede geskiedenis gemaak het toe hy op 14 die jongste student ooit was om aan die Universiteit van Pretoria te begin studeer, het pas sy fisika-graad aan Tukkies met lof voltooi.

Hjalmar Rall, boorling van die Riebeekvallei, het die laaste vraestel vir dié moeilike graad 12 dae ná sy 17de verjaarsdag in November geskryf.
Sy pa Heinrich sê slegs ‘n handjievol van die meer as ‘n honderd studente wat saam met Hjalmar begin het, het dié kursus nou suksesvol voltooi.

Die foto is Rall se fisika-klas van 2019.


Nou lê ‘n honneurs in Fisika vanjaar voor met die oog op studies in kwantuminformasie daarna.

dié courant het destyds berig Hjalmar het sy skoolloopbaan by die Christelike Privaatskool op Malmesbury afgeskop en het in graad 3 na die Laerskool Riebeek-Kasteel verskuif.
Sy graad 1-onderwyseres, Marilize de Kock van CPM, het vertel dat sy hom goed onthou. Volgens haar het hy toe reeds uitgestaan weens vir sy vinnige vordering en leergierigheid. “Hy was die enigste leerder wat ekstra werk, by sy gewone skoolwerk gekry het.”

Hjalmar se eerste skooldag by CPM

Hjalmar het ná graad 5 begin met tuisonderrig.
Hy het op die ouderdom van 12 sy matriek geslaag met ‘n A-gemiddeld in Engels, Wiskunde, Chemie en Fisika.
Hy het daarna sy A-vlakke deur die Cambridge-internasionale eksamens geslaag nog vóór sy 14de verjaarsdag.

Hjalmar het destyds sy uitslae in die A-vlakke-eksamen gevier met sy gunsteling – roomys

Hjalmar het tóé reeds gepraat dat sy kop astro- en kwantumfisika se kant toe staan.
“Ek is mal oor fisika. Ek stel al van kleins af belang in die heelal. Fisika is die vak wat uiteindelik die antwoorde op die groot vrae gaan beantwoord.”
Die oud-Swartlander wat deesdae in Brooklyn Pretoria woon, het as deel van sy graadstudies ook ekstra wiskundemodules gedoen, want kwantumfisika en kwantuminformasie soos kriptografie, verduidelik sy pa, “is maar eintlik om in die wiskunde rond te krap”.
Hjalmar sal volgens plan aanstaande jaar in Duitsland gaan verder studeer in die kwantumingenieurswese.

Leave a Reply

error: Content is protected !!