Latest

Onderwysers moet hart en siel daarin wees – Mouton

Aan die begin van die nuwe skooljaar 2020 is dit ook die eerste keer in 16 jaar wat ‘n nuwe kringbestuurder sake in kring een van die Weskus Onderwysdistrik sal hanteer.
Ná 39 jaar in die onderwys het Johannes Mouton afgetree aan die einde van 2019.
Hy het openhartig met dié courant gesels.
“Die onderwys is ‘n uitdagende beroep. Die onderwys is nie vir elke mens nie. ‘n Mens kan nou sê wat jy wil. Die onderwys is nie meer ‘n plek waar ‘n ou kon kom werk omdat hy nie op ‘n ander plek reggekom het nie. Die onderwys het mense nodig wat hart en siel daarin is.

Dissipline
“Ons het almal in ons eie era en persepsies grootgeword. So byvoorbeeld in die onderwys was die ou bestel die afdwing van dissipline deur geweld. Ek het ook ‘n gedeelte daarvan gehad. Selfs toe ek skoolhoof was. Daardie lat is ‘n magtige wapen in my hand. Jy kon jou vlak van dissipline gestel het en jy kon dit gehandhaaf het… met geweld.
“Baie mense kan nog nie die kopskuif maak vanuit daardie paradigma na die paradigma van menseregte nie. Miskien het dit te vinnig op ons afgekom.”
Mouton, ‘n boorling van Porterville, vertel dat hy eers daar in die Porterville Primêre skool was tot standerd 6 (nou graad 8).
“In daai jare was daar nie hoërskole op elke plek vir ons mense nie.
“Ons in Porterville het gewoonlik na skole toe gegaan in die omgewing.
Schoonspruit Sekondêre Skool was die skool wat baie van daardie kinders getrek het.”
Hy was in Schoonspruit van 1973 tot matriek in 1976 waarna hy by UWK gaan studeer het.
Ná die voltooiing van sy honneurs in aardrykskunde het hy in 1981 by Schoonspruit begin skool hou. Sy ander hoofvak was sielkunde.
“Baie van onse mense het ‘n persepsie dat hulle is reg. ‘n Mens moet mekaar kan verstaan. As ons almal daardie visie het om oop te wees en ontvanklik te wees om ander mense te verstaan, sal ons soveel verder wees.
“So ons sal moet kyk. Om die kinders vandag in die skool te bestuur is nie maklik nie.
Die kinders wat daardie tyd in die skole was, was nie dieselfde as vandag nie.

Onderwysers bemagtig
“Die kurrikulum was ook anders. Dit sal vir my goed laat voel as ons dalk in die opleiding van onderwysers kan begin inbou dat hulle ook bemagtig word dat ons ook hierdie uitdagings kan bestuur. Onthou hierdie uitdagings is besig om mense uit te brand. Is besig om mense uit te brand.
“In die onderwys het jy twee groepe mense. Jy het die ouer garde wat besig is om uit te gaan en dan het jy die ander kontingent van die nuwes wat inkom. Ek dink dit is vir baie van die nuwe mense ‘n kultuurskok as hulle in die skole kom met 50 kinders voor hulle en hulle moet begin klas gee.
“So ek sal baie graag wil hê ons moet beweeg na ‘n punt toe waar ons onderwysers meer bemagtig om vaardighede te kan hê om die situasie binne die skole te kan bemeester.
“Daar is nie probleme met ons onderwysers se vakkundige opleiding nie. Maar ek dink wel met die handhawing van dissipline.”
Mouton was destyds departementshoof toe hy in 1992 van Schoonspruit af na Saxonsea Sekondêr is. Daar was hy senior departementshoof en is kort daarna as adjunkhoof aangestel.
In 1995, nadat hy vir ‘n jaar as hoof waargeneem het, is hy in die pos aangestel.


Hy het in Maart 2000 die pos op Malmesbury aanvaar. Daarna het hy op Vredendal gewerk voordat hy in 2004 weer die pos in Malmesbury aanvaar het.
“Dit is vir my ook baie moeilik om te aanskou die kwessie van respek. Die kwessie van waardes.

Waardes
“Ons het ‘n veldtog wat waardegedrewe onderwys promoveer dat ons deur die vestiging van waardes mense se gedagtes kan verander. Onderwysers se gedagtes kan verander. Ouers se gedagtes kan verander. Kinders se gedagtes kan verander. Om uiteindelik kwaliteit te kan gee vir die kinders dat hulle beter burgers kan wees daar buite.
“Daar is ‘n slagspreuk in skole: Enter to learn. Leave to serve.
“Dat ons daardie waardes moet inbou binne-in die skole en ons kinders moet toerus met vaardighede sodat hulle kan uitgaan om te gaan doen daar buitekant. Wat my goed sal laat voel, is as dit ‘n werklikheid word van elke kind wat hier uitgaan dat ‘n groot persentasie van hulle wat nie die hulpmiddele gehad het of geld het nie om nie bestem te wees vir die strate en geweld nie. Om vir ons kinders die nodige toerusting en positiewe energie te gee.”

Leave a Reply

error: Content is protected !!