Nuwe uitvoerende hoof neem leisels oor by Vititec
Vititec, die bekende verskaffer van wingerd- en tafeldruifplantmateriaal aan die Suid-Afrikaanse wynbedryf, het André van Wyk pas aangestel as nuwe hoof uitvoerende beampte.
Van Wyk was vir die afgelope vier jaar produksiebestuurder van die vrugteverpakkingsafdeling by Du Toit Vrugte. Hy was ook voorheen aan die Suid-Afrikaanse tafeldruiforganisasie SATI verbonde as bestuurder van marktoegang en tegniese ondersteuning en diensbestuurder vir die Raad van Toesig op die Uitvoer van Bederfbare Produkte (PPECB).
Hy neem op 1 Maart die leisels oor by Nico Spreeth, wat uittree.
“Ek sien daarna uit om met Vititec se span saam te werk om selfs nog meer waarde tot die Suid-Afrikaanse wynbedryf toe te voeg deur die maatskappy se hoogstaande plantmateriaal en dienslewering,” sê Van Wyk.
“Moeilike tye, soos dié wat die wynbedryf en die breër landboubedryf die afgelope paar jaar beleef het, is ʼn katalisator vir innovasie en nuwe, gefokusde denke, wat ek glo die bedryf selfs sterker sal maak.”
Vititec is ʼn filiaal van Vinpro en in die Paarl gesetel, met persele in Vredendal en buite Stellenbosch, Clanwilliam en Piketberg.
Die maatskappy fokus op virusreiniging van wingerdplantmateriaal, maar ook op die ontwikkeling, vermeerdering en voorsiening van wingerd- en wynkundig geselekteerde plantmateriaal aan die bedryf in die vorm van geënte wingerdstokke en wingerdplantmateriaal geskik vir enting.
Die maatskappy voorsien meer as 95% van die bosstokplantmateriaal en nagenoeg 50% van die onderstokplantmateriaal aan die Suid-Afrikaanse wynbedryf. – (Mediaverklaring)