s.Oliver skiet modes by Schoonspruit
Malmesbury is vandeesweek gasheer vir heelparty internasionale en plaaslike modelle met ‘n katalogus vir een van die wêreld se bekendste modekettinggroepe, s.Oliver, wat hier by die Schoonspruit opstal verfilm word.

s.Oliver, ‘n internasionale modegroep met sy hoofkwartier in Rottendorf, Duitsland, is in 1969 gestig en het vandag winkels in Wes- en Oos-Europa, Noord-Amerika (Kanada) en Asië. Die katalogus, waarvan die foto’s oor 11 dae op verskillende plekke in die Wes-Kaap geskiet word, is vir ‘n klerereeks vir beide volwassenes en kinders.

Die projek het vandag afgeskop by Schoonspruit, wat vroeër ook as The Beacon bekend gestaan het.
Luidens ‘n skrywe vroeër van die Malmesbury Museum is Schoonspruit deur ‘n destydse eienaar, mnr. Van der Westhuizen, gebou en in 1904 opgeknap toe dit aan ‘n mnr. Rood en ‘n mnr. Penberthy verkoop is.
P.G. Nelson, bekende oud-burgemeester van Malmesbury, het later daar gewoon en dit gekoop in 1934.

Een Deense lid van die kamera- en ondersteuningspan het aan dié courant gesê die opstal en omgewing laat hul aan ‘n “American Ranch” dink. Hul was ook gefassineerd met die geskiedenis van Schoonspruit waar die treine jare gelede gestop het vir passasiers om deur die tuin te wandel.