Onderwysman praat oor klasse; nuwe skool vir Chatsworth
Die skole in die streek groei aanhoudend en die skole is onder geweldige druk.
Só gesels Johannes Mouton, wat pas ná meer as 15 jaar in die pos afgetree het as kringbestuurder van Kring 1 (Malmesbury-kring) van die Weskus Onderwysdistrik.
Mouton het openhartig met dié courant gesels oor sy loopbaan en die onderwys.
Daar is 26 skole in dié kring en dit wissel van klein tweemanskole soos Korhaanrug, Morning Star en Bloemendal tot die grootste (Liebenberg Primêr) wat oor die 1700 kinders het.
Dit sluit een spesiale skool (Riebeekvallei) en vier hoërskole – almal in Malmesbury – in.
Die res is laerskole.
“Malmesbury is ‘n groeipunt. Ek dink die opgradering van die N7 is een van die faktore, maar die grootste groei op die oomblik is in Chatsworth. Ons het ‘n geweldige migrasie van mense uit die stad uit wat in Chatsworth woon.
“By die skooltjie in Chatsworth het daar tien jaar gelede seker maar iets soos vyf onderwysers skool gehou. Die laerskool is heeltemal oorvol. Daar is nou planne opgetrek. Daar gaan ‘n nuwe skool gebou word. Die planne is om dit eersdaags te bou. Daar word voorsiening gemaak vir meer as 1200 kinders met 30 plus onderwysers.
“Chatsworth as die grootste groeipunt impakteer beslis ook op Malmesbury. Dit plaas veral druk op hoërskole in Malmesbury.
“Daar is in Chatsworth ‘n ander verskynsel. Daar is ‘n sterk Engelse komponent.”
Mouton, gesels nog oor sy grootwordjare en sy jare in die kringkantoor.
Sy pa was ‘n ambagsman wat by groot konstruksiemaatskappye gewerk het en sy ma was ‘n huisvrou en ma van vier seuns. Hy is die oudste.
Sy jongste broer is oorlede kort matriek.
“Die ander drie van ons was op universiteit. Dit was moelike tye vir my pa as die enigste ouer wat werk.
“Toe ek begin skoolhou, was die derde broer by Schoonspruit in matriek en soos die tradisie maar was het ek hom toe maar basies gefinansier om sy studies te voltooi aan die Wes-Kaap Universiteit.”
Mouton vertel sy pa is in 1984 vroeg dood op 50 ná ‘n ernstige ongeluk by die werk en ‘n lang siekbed.
“Toe het ek na my ma omgesien tot ek getrou het. Toe is sy ook later aan kanker oorlede.”
Oor sy jare in die kringkantoor sê: “Ek is ‘n ou wat amper soos ‘n motor bestuur wat die motor die elke dag ry tot op sy refs wat die hoogste is.
“Ek is iemand wat die maksimum van myself en die maksimum uit die dag uit wil kry.”
Hy is 61 en vertel hy wou altyd op 60 aftree. “Ek het kennis gegee toe ek 60 geword het, maar die departement het vir my gevra om eers aan te bly.
“Die afgelope 15 jaar op Malmesbury het ek my allerbeste gegee en probeer om ‘n footprint te laat wat ander mense kan navolg.
“Ek verlaat die onderwys met groot dankbaarheid.
“Ek gaan moeg en afgemat aftree. Ek is uitgebrand as ek saans by die huis kom. Het geen selfverwyt nie en regtig my beste gedoen.”
Hy sê hy gaan eers op Malmesbury woon. “Ek het nog nie werklike planne nie.
“Ek is ‘n man wat taamlik op adrenalien lewe. Ek sal seker iets uitgrawe. Ek is darem nog nie so oor die wal nie.”
Ons gesels oor die kleiner skole en of daar tans ‘n kans is dat van hulle gesluit kan word.
Grondwet
“Daar is effense daling in die getalle van die skooltjies rondom Malmesbury vanweë ook die migrasie van mense van die plase wat nou in informele nedersetting kom woon of in die HOP-huise.
“‘n Mens moet begin by die grondwet. Die grondwet waarborg toegang tot onderwys vir kinders tussen 7 en 15 jaar oud – die tydperk wat bekend staan as verpligte onderwys.
“Wanneer ons ‘n besluit moet maak om ‘n skool te sluit, moet ons altyd daardie beginsel in gedagte hou. Ek kan nie sommer net ‘n skool gaan sluit nie. Ek moet gaan kyk tot hoe ‘n mate die toegang tot onderwys vir daardie kind steeds dieselfde sal wees. Die moment as jy ‘n skool sluit, moet jy vir daardie kinders vervoer gee. Wanneer ‘n mens ‘n skool sluit, gaan dit daaroor dat die skool nie meer ekonomies in stand gehou kan word nie. Die uitgawe kan nie meer geregverdig word nie. As jy die kinders skuif, moet jy hulle skuif na dieselfde of beter omstandighede.
“In hierdie stadium het ek nie planne ingedien om enige skole te sluit nie.
“Ons wil graag vir ons kinders beter gee. Ons kinders verdien dit. Ek kan nie skole sluit nie, want ek het nie plek vir hulle in ander skole op Riebeek-Wes, of Darling of Malmesbury nie.”
Uitdagings
Mouton verduidelik daar is binne-in die CAPS-kurrikulum ook ‘n formaat ontwikkel vir die klein multigraadskole.
“Daar is ‘n aangepaste kurrikulum om seker te maak dat die kinders nie benadeel word nie.
“Daar is ook ander uitdaging by multigraadskole soos die instandhouding van die geboue. Baie van die geboue is ou geboue in private besit. Meesal doen die departement die onderhoud aan die binnekant en die eienaar aan die buitekant.”
Hy verduidelik dat Darling ook geweldige bevolkingsgroei toon. Die twee primêre skole op Darling is albei vol. “Hulle is eintlik nou al amper bo kapasiteit.
Getalle
“Daar is op die kaarte ook ‘n nuwe skool vir Darling, maar in hierdie stadium is dit moeilik om te sê wanneer. Ons moet onthou die algemene ekonomiese toestande in die land het ‘n direkte invloed op hierdie tipe goed.
“Ek het die laaste paar jaar maar ‘n redelike lyn getrek oor die getalle van kinders in sommige skole, natuurlik teen die wense van ouers. Maar onthou, ek moet die kapasiteit van die skole bestuur. Ek kan nie skole laat oorlaai nie. So ons probeer maar die hulpbron bestuur.
“Maar ons skole is onder druk.”
Die grootste klasse kom by die groot skole voor soos Liebenberg en St Thomas en Vooruitsig Primêr.
“Die departement het ‘n raamwerk volgens oppervlak per kind.
“Vanweë die druk op die onderwys, werk ons nie nou volgens oppervlak nie en moet ons maar werk volgens onderwysers.
“As jy ‘n 1200 kinders het en jy het 30 onderwysers moet jy jou somme begin maak.
Kinders per onderwyser
“Ons probeer maar by die grondslagfase tot so ‘n mate werk dat ons nie meer as 40 kinders in die klasse het nie.
“Dis ‘n ding wat ek nogal baie streng op was en het dit deurlopend gemonitor. Maar dit is nie altyd moontlik nie.
“Ons probeer. Ons ideaal is dat daar nie meer as 40 kinders per onderwyser is nie.
“Onthou elke skool kry ‘n diensstaat volgens die aantal kinders. Maar dit is nie net ‘n deelsom nie.”
By ‘n hoërskool bied hulle bv. ‘n vak aan soos musiek. Daar kan nie so baie kinders in die klas wees nie, want elkeen moet individuele aandag kry. Daardie klasse word dan deur ander klasse gesubsideer deur ander vakke wat teenoor musiek staan.
“In die laerskool weer kry jy ‘n soortgelyke probleem. Die skoolhoof is ook deel van die getal. Die prinsipaal gee dikwels maar 6% klas en daar is ook ander senior personeel wat net ‘n persentasie klas gee.
“Dit is die verskil tussen die skole wat darem ‘n biejtie meer finansieel in staat is om nader aan die ideaal te kom.
“In hierdie kring, sonder die Riebeekvallei Spesiale Skool wat op ‘n ander model is, is daar maar vier skole in kwintiel 5.”