SchoolsSports

HSS kolwers vaar goed ná verbroude kanse in die veld

Verroeste veldwerk ná ‘n lang vakansie was die naweek die hoofoorsaak waarom die Hoërskool Swartland se eerste elftal op tuisbodem die knie moes buig teen New Orleans wat oor ‘n verwoestende boulaanval beskik.
Twee van die Wes-Kaap se top-skoleboulers in die besoekers se span ten spyt, het Swartland se kolwers uitstekend gevaar met kaptein André Pienaar wat op een bal na die hele kolfbeurt voor die paaltjies was.


Die tuisspan het eerste geboul en met etlike verbroude kanse in die veld die besoekers toegelaat om 242/6 aan te teken.
Dit was ‘n groot teiken en HSS se twee aanvangskolwers, Pienaar en AW Steyn, het hul uitstekend van hul taak gekwyt om die snelaanval die hoof te bied.
Dit was egter van die begin duidelik dat die lopieteiken van bykans 5 per beurt moeilik haalbaar sou wees.
Namate die bal verweer het en die kolwers hulself ingegrawe het, is die angel uit die snelaanval gehaal.
Pienaar het op 90 sy paaltjie met die voorlaaste bal van die 50ste beurt verloor.

Steyn is gevang met sy telling op 35. Ná hom het Ian Nel en Wiaan van Reenen saam met Pienaar gekolf en Bertus Brits het Pienaar vervang.
Swartland het 195/4 in die toegelate boulbeurte aangeteken.
Van Reenen het die beste gevaar met die bal en drie paaltjies van die besoekers ingepalm.
Swartland se volgende wedstryd is geskeduleer vir Saterdag op Moorreesburg teen Hoërskool Dirkie Uys.

Leave a Reply

error: Content is protected !!