GeneralSchools

Taal in onderwys bring respek vir mekaar – Mouton

Taal in die onderwys is ‘n sensitiewe aangeleentheid.
dié courant het Johannes Mouton wat pas afgetree het as bestuurder van die Malmesbury kring van die Weskus Onderwysdistrik gepols oor die moontlikheid van ‘n verpligte derde taal om as brugbouer te dien.
“Die taalkwessie is ‘n baie sensitiewe aangeleentheid. Vir my as Afrikaanssprekende is dit in die Malmesbury(Kring 1)omgewing ‘n groot uitdaging om te hanteer.

“Ons sal mense moet voorberei daarop, want ons kommunikasietaal sal binnekort moet verander. Daar is ‘n sterk inbeweeg van Engels om eintlik die brugbouer te wees sodat ons almal op die ou end gelyk staan.
“Ons twee skole in Ilinge Lethu byvoorbeeld. Baie mense verstaan nie heeltemal die situasie daar nie. Naphakade is die laerskool. Daardie skool het net Xhosa-onderrig (moedertaalonderrig) in die grondslagfase. Maar vanaf graad 4 onderrig hulle in Engels.
“Ons het ‘n akroniem LOLT (Language of Learning and Teaching) waarmee ons verwys na die taal waarin daar onderrig gegee word by die skool.
“Die skool moet daarvoor aansoek doen.
“Die taal van onderrig by Naphakade is moedertaalonderrig in die grondslagfase.
“Dit is ‘n groot uitdaging vir kinders wat uit die Oos-Kaap kom wie se huistaal isiXhosa is.

“Elke skool het ‘n huistaal en ‘n addisionele taal.
“By Ilinge Lethu Sekondêr is hulle huistaal isiXhosa. Dit is dus hul eerste taal. Die tweede taal is Engels maar die taal van onderrig is ook Engels. Daar word ook Sotho aangebied waarin die kinders goed vaar.”
Mouton sê al is die streek se voertaal oorwegend nog Afrikaans, het die “invloei van Engels genoodsaak dat ons moes begin aanpassings maak”.
Skole wat in twee tale onderrig, het twee modelle.
‘n Dubbelmedium-skool is waar daar in twee tale in een klas onderrig word en ‘n parallelmedium-skool is waar daar aparte klasse is met bv. Engelse en Afrikaanse onderrig. Voorbeelde van laasgenoemde is Laerskool Swartland en Liebenberg Primêr.
“Ons was geforseer om by Schoonspruit ook Engels in te bring om die kinders uit Liebenberg te akkommodeer en ook die Engelse kinders wat van Chatsworth af kom.
“So by Schoonspruit is ook nou in grade 8 en 9 parallelmedium-onderrig. Maar hulle kon dit nog nie in die VOO-fase (Gr 10-12) doen nie. Daar is dit nog dubbelmedium.
“So in dié konteks nou het ons nog nie eers begin dink aan ‘n derde taal nie. Ons strewe nou eers na ‘n gemeenskaplikheid om Engels die kommunikasietaal hier te maak.”


Mouton voeg by dat respek en taal hand aan hand gaan.
“Maar ek dink respek is ‘n baie belangrike aspek. As dit gaan oor waardes.
“As ons werklikwaar mekaar wil respekteer. Sal dit soveel beter wees as ons mekaar kan verstaan. As ek en die Xhosa-sprekende skoolhoof byvoorbeeld in gesprek kon wees in sy/haar moedertaal, sal dit wys watter respek ek vir hom/haar betoon, maar ons moet nou albei in ons tweede taal met mekaar kommunikeer.”
Die nasionale onderwysdepartement het op die oomblik ‘n program aan die gang om die derde taal in te bring wat op die grondslagfase fokus.
“Die uitdaging is nie om die taal te begin nie. Die uitdaging is om onderwysers te kry om die taal te onderrig.
“Daar is ‘n projek waar grondslagfase-onderwysers nou opgelei word met kursusse om die basiese beginsels van isiXhosa te bemeester om dan die derde taal te begin infaseer.
“Ons maak met baie groot sukses gebruik van die onderwysers van Xhosa-sprekende skole. So ja. Taal is belangrik. Taal bring respek. Taal bring verstaan van mekaar. Taal bring mense nader aan mekaar.”

Leave a Reply

error: Content is protected !!