Liebenberg hou byeenkoms op splinternuwe tartanbaan
Met die meeste skole in die streek wat vandeesweek hulle jaarlikse kleure-atletiekbyeenkomste hou, het Liebenberg Primêr gister die eerste keer hul byeenkoms op die splinternuwe tartanbaan gehou.
Die nuwe multimiljoenrand-sportkompleks met atletiek en ander fasiliteite tussen Kareeboomstraat en Mimosalaan op Malmesbury is verlede jaar voltooi.
dié courant het vroeër berig oor die kompleks met ‘n asfaltbasis-tartanatletiekbaan, ‘n sintetiese binnesokkerveld en natuurlike gras-buiteveld asook vyf nuwe dubbelaanwending tennis/netbalbane, die opknap van die bestaande klubhuis, nuwe omheining, nuwe boorgat en waterstelsel wat besproeiing insluit.
Die projek wat R35 miljoen gekos het, is deur die Departement van Kultuursake en Sport befonds.
Dit is ‘n Vlak 2-tartanatletiekbaan (400m) volgens die internasionale atletiekfederasie (IAAF)se standaarde met ‘n veeldoelige binneveld van 98m x 60m vir die gebruik van sagtebal, bofbal, sokker of rugby.
Die fasiliteite sal deur die aanliggende skole, Schoonspruit Sekondêr en Liebenberg Primêr asook ander skole in die omgewing gedeel word.
Die Departement van Kultuursake en Sport, in samewerking met die skole wat geïdentifiseer is om die fasiliteit te benut, sal die gebruik van die fasiliteit koördineer.
Ook sal die “Departement van Kultuursake en Sport die skool ondersteun en personeel voorsien vir die bestuur van die fasiliteit,” die woordvoerder van die Wes-Kaap se departement van onderwys, Bronagh Hammond, gesê.