Kry Malmesbury eersdaags ook ‘n nuwe universiteit?
As die grootste eiendomsontwikkelings tot nog in die Swartland wat deur ontwikkelaar Geoff Chait beplan word, realiseer, gaan die Universiteit van Stellenbosch ‘n nuwe universiteit op 80ha grond tussen Malmesbury en Abbotsdale bou.
Chait het aan dié courant gesê: “Ons moet Malmesbury verander na ‘n plek wat meer het as Pioneer en Kaap Agri.
“Dié transaksie met die Stellenbosch Universiteit is beklink en ook deur die US-raad goedgekeur. Die kontrak moet net nog geteken word.
“Ons het die 80ha aan hulle geskenk.”
Oor wat presies die universiteit hier beoog, “kan ek jou nie sê nie. Ek weet hoe hulle dink, maar kan dit nie bekend maak nie.”
Dit kan 20 000 studente beteken, sê Chait.
“Daar is nie ‘n ander dorp in die land wat die potensiaal het wat Malmesbury het nie.
So as mense wil belê, moet hulle hier kom belê.”
Dié planne maak deel uit van ‘n enorme ontwikkeling wat om die nuwe Abbotsdale-wisselaar op die N7 beplan word.
Die geskatte waarde van die totale ontwikkeling kan “tot R10 biljoen wees,” sê Chait. “Dit sluit 18 000 nuwe geleenthede vir wooneenhede, ‘n private hospitaal, private skool, hotel, vulstasies en ‘n vragmotor-oorstaanplek in.”
Hy sê die totale ontwikkeling is ‘n 20-jaar projek en behels ook die verlenging van Schoonspruitweg tot by die Abbotsdale-wisselaar.
Laasgenoemde, sê Chait, “sal so twee jaar neem, want dit sluit ‘n brug oor die treinspoor en ‘n brug oor die rivier in. Dit is dus ‘n duur oefening.”
Chait wou nie op rekord bevestig dat sy planne ook ‘n groot streekwinkelsentrum insluit nie.
“Ons moet die huidige sakekern van Malmesbury in ag neem,” het hy gesê.
Daar is reeds begin met die eerste fase van sy projek met die hersonering en diens van industriële grond op die ou Schoonspruit-plaas.
“Ons het die eerste fase uitverkoop sonder veel bemarking en nou praat ons met internasionale rolspelers wat belang stel weens die nabyheid van die grond aan die N7.
Oor die private skool: “Ons onderhandel tans met drie groepe om ‘n private skool te bou.”
Die planne sluit ook ‘n sogenaamde agri village in.
“Die 26ha het ons vir hulle gegee en ‘n ooreenkoms met een van die supermarkte gesluit dat hulle met die kleinboere sal koördineer wat hulle moet verbou en dan die produkte van hulle sal aankoop.”
Chait sê die ander dorpe om Kaapstad het hul kapasiteit bereik en Malmesbury gaan ontplof.
“Die demografie wys dat die dorp in 10 jaar gaan groei van 56 000 inwoners tot 200 000 inwoners,” sê hy.
“Dit is 10 jaar van ons met die groot ontwikkeling begin en dit sal oor twee jaar wees.”
Volgens hom is dit belangrik om die naaste gemeenskap in ag te neem en daarom “moet die gemeenskap van Abbotsdale voorkeur kry as dit kom by werksgeleenthede in die ontwikkeling.”
Oor Schoonspruit se opstal en historiese tuin sê Chait: “Dit is ‘n fantastiese huis. Ons gaan dit restoureer en ook die tuine herstel. Dalk nie met dieselfde plantegroei nie, maar ons gaan dit herstel. Ons gaan spekbome spesifiseer as die fokusplant van die ontwikkeling.
“Spekbome verlaag die koolstofvoetspoor, dit groei maklik en dit is inheems.
“Om die Schoonspruithuis gaan ons olyfboorde en spekbome plant.
“Daar is 25 ha onder die huis wat nie deel van die ontwikkeling is nie. Ons gaan die tuin daar hervestig en die geboue omskep in iets soos ‘n antieke handelaar miskien.
“Dit sal byvoorbeeld fantasties wees vir iemand soos Trevor Rinkwest om dit te bedryf.”
Chait het bygevoeg “dit was ‘n openbaring om saam met die raad en amptenare van die Swartland Munisipaliteit te werk. Hulle is ongelooflik professioneel. Ek bedoel dit regtig. Hulle verdien ‘n klop op die skouer.”