Binnelandse Sake verleng kantoorure vir Februarie
Die Departement van Binnelandse Sake het die werksure by al sy “gemoderniseerde kantore” van vandag tot 28 Februarie verleng tot 19:00 saans.
Dit beteken dat dié kantore burgers van 08:00 tot 19:00 op weeksdae sal bedien.
Die Departement sal toesien dat almal wat met toemaaktyd binne die betrokke kantoor is, bedien sal word.
Dit is belangrik om daarop te let dat kantoorbestuurders/toesighouers wel hul diskresie sal gebruik om die kantoor 30 minute voor die toemaaktyd te sluit, onderhewig aan die aantal persone wat bedien kan word voor 19:00 om te verseker al die nodige werk word betyds afgehandel.
Die Departement moedig mense aan wat van voorneme is om ons kantore te besoek, om dit so vroeg as moontlik op die dag te doen.
Aansoeke om en afhaal van slim ID-kaarte en paspoorte sal tydens die verlengde werksure geprioritiseer word.
Ander dienste soos die uitreiking van geboortesertifikate, sterftesertifikate en aansoeke om wysigings en regstellings sal ook gelewer word.
Die departement doen ‘n beroep op mense wat meer as twee weke gelede aansoek gedoen het om slim ID-kaarte om die kantore waar hulle om die dokumente aansoek gedoen het, te besoek om dit af te haal.
Sedert daar met die uitreik van slim ID-kaarte begin is, is daar reeds is ongeveer 400 000 slim ID-kaarte wat nie afgehaal is nie. – (Mediaverklaring)