News

Riebeek Olyffees trek nuwe baadjie aan

Twintig jaar nadat die Riebeekvallei sy eerste Olyffees aangebied het, trek dié gewilde fees vanjaar ‘n splinternuwe baadjie aan met opwindende eiesoortige nuwe kos- en wynervarings vir die fynproewer.
Op 9 en 10 Mei maak Olyf- en wynprodusente van dié vallei aan die voete van Kasteelberg hul huise, kelders en harte oop met ‘n oorvloed olywe, wyn, plaaslike kultuur en heerlike kos.

Daar is vanjaar meesterklasse met olyfolieproeë, wynervarings, langtafels en baie meer om besoekers bekend te stel aan die unieke smaak en kennis van die vallei en sy oorvloed.
Die eerste fees ter viering van ‘n goeie olyfoes is in 2000 aangebied en vanjaar is daar vyf amptelike deelnemende produsente – Allesverloren, Kloovenburg, Meerhof, Olive Boutique en die Riebeek Valley Wine Company.
Die naweekpas sal van 10 Februarie by Webtickets beskikbaar wees en vir die twee dae toegang verleen tot die 5 deelnemende produsente en sluit ook drie wynproeë in.
Feesgangers kan nou hul eie Olyffees-ervaring skep deur een of meer van die meesterklasse in onder meer olyfolieproe, wynproe en wynversnit mee te maak.


Die meestersklasse en langtafels is nie by die paspoort ingesluit nie en met beperkte plekke is besprekings noodsaaklik.
Bekroonde olyfolies, olywe en tapenades gepaar met ‘n verskeidenheid ewe hoog aangeskrewe wyne is die resep vir ‘n smaakontploffing in die unieke nuwe Olyffeeservaring.
dié courant het die vallei die afgelope week besoek vir ‘n besondere voorproesel van wat die naweek van 9 en 10 Mei op besoekers wag.
Op dié media-voorsmakie was die algemene gevoel een van indrukwekkende gasvryheid, kulinêre flair en ‘n unieke nuwe kos-en-wyn-ervaring waarna besoekers kan uitsien.
Dit is ‘n opwindende nuwe Olyffees wat feesgangers baie nader aan die produk en die smaaksensasie-ervaring wil bring en dié leefstylgeleentheid vanjaar na ‘n totaal nuwe vlak neem.
“Dit was nodig,” vertel die voorsitter van die organiseringskomitee, Pieter Smuts, “om die fees te vernuwe en aan besoekers iets nuuts te bied.”
En ‘n nuwe ervaring inderdaad. Ons is getrakteer op ‘n mengelmoes van geure sorgvuldig berei deur van die vallei se top-sjefs wat daardie kulinêre flair bied. Ook die wynproeë het opnuut bevestig waarom dié vallei se bekroonde wyne as deel van die Swartland-wynstreek deurlopend al hoër klim op die leer van uitnemendheid.

By vanjaar se Olyffees is daar intieme langtafel-ervarings gepaar met van die top-wynmakers/produsente waar die heerlikheid van ‘n Plaas tot Tafel-ervaring op gaste wag.
Maak seker dat u bespreek om teleurstelling te voorkom.
Gaste kan kuier om bekroonde olyfolies, olywe en olyfkos, vyfster-wyne, boetiekbier, kleurryke plaaslike kultuur asook karaktervolle restaurante (sommige splinternuut), proelokale (sommige ook sprlinternuut) kunsgallerye, skoonheidsprodukte, plaaslik vervaardigde klere, handwerk- en geskenkwinkels, plaaslike kunstenaars en straatmusikante.
Daar is ook geleenthede om te stap in die olyfboorde en wingerde om ook dié deel van die produk in hul natuurlike omgewing te ervaar.
Kaartjieverkope vir die R150-paspoort open 10 Februarie op www.webtickets.co.za.
Besoek die webwerf vir meer inligting op www.riebeekvolleyolivefestival.co.za
Vir meer inligting, kontak riebeekvalleyolivefestival@gmail.com

Leave a Reply

error: Content is protected !!