Waarde van wyntoerisme bekyk
Die Suid-Afrikaanse wynbedryf het ʼn opname van stapel gestuur om die ekonomiese waarde van die wyntoerisme-sektor te bepaal.
“Die opname sal aan ons ʼn geloofwaardige maatstaf bied, waardeur ons die wyntoerismebedryf se vordering met betrekkeing tot die 2025-teikens kan monitor,” sê Marisah Nieuwoudt, wyntoerismebestuurder van die wynbedryfliggaam Vinpro.
Die wyntoerismesektor beoog om besoekergetalle na Suid-Afrikaanse wynroetes te verhoog saam met ʼn verhoging in inkomste; om nuwe werksgeleenthede te skep en om die streeksverspreiding van besoekers oor al 23 wynroetes te bevorder.
Die opname sal deur Vinpro gedryf en uitgevoer word onder wynprodusente en kelders wat deur Vinpro verteenwoordig word sowel as al die wynroetekantore.
“Hulle sal versoek word om inligting oor die toerisme-aktiwiteite en werkskepping op hul plase te voorsien, sodat ons die direkte, indirekte en verwante inkomste en werkskepping in die wyntoerismebedryf kan
kwantifiseer. Alle inligting sal vertroulik hanteer word en slegs as gemiddelde syfers weergegee word,” sê Nieuwoudt.
Die inligting wat versamel word, sal ook deel vorm van die studie oor die Makro-ekonomiese Impak van die Wynbedryf op die Suid-Afrikaanse Ekonomie-studie wat elke vyf jaar deur die SA Wynbedryfinligting en -Stelsels (SAWIS) uitgevoer word.
Martin Jansen van Vuuren van Futureneer-adviseurs sal die wyntoerismestudie behartig.
“Ons vra dat alle wynprodusente en kelders aan die opname deelneem, sodat ons ʼn geloofwaardige jaarlikse maatstaf kan vestig en ook wyntoerisme op ʼn streeksbasis kan analiseer,” sê hy.
Die opname word van 5 Februarie tot 13 Maart 2020 uitgevoer om aan soveel moontlik wynprodusente en kelders die geleentheid te bied om insette te lewer en sodoende by te dra tot die kwantifisering van die ekonomiese waarde van die wyntoerismebedryf. – (Mediaverklaring)