Bekroonde fotograaf hou werkwinkels by !Khwa ttu
Die bekroonde fotograaf en deeltydse inwoner van Yzerfontein Geo Cloete het onlangs weer ‘n plek op die podium losge”skiet” in ‘n internasionale fotokompetisie.
Cloete vertel dit was die vierde keer wat die Deep Visions onderwaterfotografie-kompetisie gehou is. Dit is ‘n internationale kompetisie met inskrywings regoor die wêreld en hierdie keer is meer as 2000 inskrywings ontvang.
“Dit was die derde jaar wat ek deelgeneem het en ook die derde jaar wat ek ‘n toekenning ontvang.
“Die mees suksesvolle was in 2017 toe ek die wyehoek-afdeling vir D-SLR-kamera’s asook die algehele kompetisie gewen het.”
Cloete se foto wat nou bekroon is, is ‘n foto van ‘n bloublasie getitel, Drifter.
“Alhoewel bloublasies nie die gunsteling-dier van meeste strand/seegebruikers is nie, is hulle eintlik baie interessante diere.
“Bloublasies (Physalia utriculus) kom gewoonlik in die diep blou waters voor, maar soos enige seilskip, as dit in die verkeerde wind gevang word, kan dit in die vlak waters langs die kus beland, waar dit meeste van die tyd dan sal uitspoel.
“Elke bloublasie bestaan eintlik uit verskeie diertjies, elkeen met ‘n spesifieke funksie. “Elkeen benodig die ander om as ‘n geheel te funksioneer en voort te bestaan. Bloublasies kan oral langs ons kuslyn gevind word. Dit hang net af van hoe sterk en uit watter rigting die wind gewaai het.”
Cloete wat reeds verskeie toekenning vir see- en onderwaterfotografie ontvang het, sê daar is verskeie maniere hoe mens onderwater fotos kan neem, “maar as jy ‘n DSLR wil gebruik, gaan jy ‘n waterdigte hulsel benodig waarbinne jou kamera en lens veilig sal wees teen die water.
“Omdat die verskillende kleurspektrums nie ewe ver die water binnedring nie, maak ons ook gebruik van flitse om die werklike kleur van die onderwaterwêreld vas te vang,” vertel dié ervare onderwaterfotograaf.
Hier is van Cloete se foto’s wat hy in 2018 ingeskryf het wat Kaapstad as duikbestemming bemark het. Hy het daarmee ‘n tweede plek wêreldwyd losgeslaan.
Cloete, wat deeltyds op Yzerfontein woon, gaan ook eersdaags fotografiewerkwinkels aanbied.
Die fotografiewinkels op verskillende datums sal van aanstaande maand regdeur die jaar by !Khwa ttu langs die R27 gehou word. Daar is twee kategorieë om van te kies – nagfotografie en wild/natuurfotografie.
Die werkwinkels strek oor twee of drie dae en is gerig op fotograwe van alle vaardigheidsvlakke en sal uit klein groepe bestaan vir meer individuele aandag.
Belangstellendes kan Cloete kontak vir besonderhede en datums.
Enigiemand wat meer wil leer van sy werk of afdrukke daarvan wil bestel, kan hom ook per e-pos kontak op info@geocloete.com Volg sy werk by https://www.instagram.com/geo_cloete/ en https://www.facebook.com/geocloete/