WKDM stel 2de kusbestuursplan vry
Die Weskus Distrikmunisipaliteit (WKDM) het op ‘n raadsvergadering die Geïntegreerde Kusbestuursprogram, soos voorgeskryf ingevolge die wet op kusbestuur, goedgekeur en aanvaar.
Dit beteken dat die WKDM voortaan in samewerking met die plaaslike munisipaliteite uitvoering sal kan gee aan munisipale verantwoordelikhede rakende kusbestuur.
‘n Toegewyde munisipale kuskomitee wat reeds in 2013 op distriksvlak gestig is, vergader ook elke drie maande saam met verteenwoordigers van plaaslike munisipaliteite om uitvoering en implementering te verleen aan projekte soos omskryf binne die plan.
Volgens die WKDM se Hoof Omgewingsbestuursbeampte, Charles Malherbe, onder wie se wakende oog die kusbestuursprogram opgestel is, het die distrik nou ‘n oorhoofse en holistiese kusbestuursplan en het elke plaaslike munisipaliteit terselfdertyd ook ‘n plaaslike kusbestuursplan wat na area-spesifieke aspekte kyk.
Van die fokusareas waarop die Kusbestuursplan fokus, sluit in die fasilitering van toegang tot die kus, kusbeplanning en -ontwikkeling, bestuur van riviermondings, beheer en bestuur van besoedeling sowel as bewusmaking, opvoeding, opleiding, kapasiteitsbou en inligtingverspreiding.
‘n Voorlopige kusbestuursverordening is ook saamgestel om beter uitvoering van die kusbestuursplanne by plaaslike munisipaliteite te kan verseker.
Die goedgekeurde en aanvaarde nuwe kusbestuursplan is nou beskikbaar op die Weskus Distriksmunisipaliteit se webtuiste by http://westcoastdm.co.za/wp-content/uploads/2019/12/Second-generation-Integrated-Coastal-Management-Plan-1.pdf
Enige navrae in dié verband kan gerig word aan info@wcdm.co.za
Die WKDM het ook ‘n vennootskap met die Seereddingsinstituut om opvoedkundige sessies en bewusmaking met leerders in skole te doen oor veilige swemgewoontes en hoe om meer paraat te wees op strande.