Kansa Relay op Malmesbury mik na R260 000
Die Kansa Malmesbury Relay for Life, KANSA se groot vlagskipprojek wat jaarliks op talle plekke reg oor die land geskied, vind weer Saterdag en Sondag plaas.
Die organiseerders se begroting is R260 000 vir vanjaar nadat daar verlede jaar R185 000 ingesamel is.
Andries Burger van Kansa sê aan dié courant hulle begroot vir 55 spanne by vanjaar se Relay.

Inskrywings beloop R750 per span en sluit 15 luminaria-sakkies is.
Burger sê die luminaria-sakkies het tot dusver vanjaar goed verkoop. “Ons het al amper oor die 2000 sakkies verkoop.”
Verlede jaar is altesaam 1400 luminaria-sakkies, wat vooraf aangekoop word ter herdenking van kankerpasiënte – dié wat die siekte oorleef het en diegene wat die stryd teen kanker verloor het – in ‘n lang sirkel om die baan gepak.

Burger sê die sakkies sal nog tot op die dag op die veld verkoop word teen R10 en daar is ook ‘n stalletjies waar sakkies versier kan word.

Dit is vanjaar die 12de keer wat dié geleentheid gehou word en dit vind weer op die Malmesbury Skougronde plaas.
Volgens Suretha Burger wat die span-inskrywings hanteer, is daar reeds 47 spanne wat vorms geneem het, waarvan die helfte reeds betaal het.
“Spanne kan nog kom inskryf, maar dan sal hulle gou moet spring.”
Sy vertel dat die vermaak by vanjaar se Relay optredes deur Michael Gilman van Moorreesburg, Rashaad van Abbotsdale, Larry Johnson op saksofoon, die Brigade en danse deur Tatum Tippens en ‘n dansgroep insluit.
Dolly Marais van Malmesbury en haar span, die Marais-ondersteunerspan, het verlede jaar vir die soveelste keer eerste uit die deelnemende spanne geëindig met insamelings van R60 000.
Sy het vanjaar een span ingeskryf omdat hulle ook die “Suvivor”-funksie doen by vanjaar se Relay.

Die opening van vind Saterdag om 18:00 plaas en sal deur Pastoor Mesani behartig word.
Mildred Mouton sal die Survivor Pledge voorlees.
Die hekke sluit Saterdagaand om 12uur vir die publiek.
Die afsluiting Sondagoggend om 06:00 word deur Vader Craig waargeneem.