Bly kalm, ‘dink uit die boks’, sê Van Essen
Die belangrikste ding in hierdie tyd is om kalm te bly, jou leefstyl aan te pas en nie teen mense te diskrimineer wat maskers dra of in selfkwarantyn is of was nie.
Só het die Swartland se burgemeester, Tijmen van Essen, aan dié courant gesê. “Ons moet positief wees en sover moontlik bly werk en die wiele aan die rol hou.
“ Ons het almal nodig.”
“Ja die situasie is ernstig, maar as ons later terugkyk op hierdie tyd, sal daar ook positiewe aspekte wees.”
Van Essen meen ondernemings word gedwing om “uit die boks” te dink oor die manier hoe hul diens lewer.
“Almal gaan moet uit die boks uit begin dink.
“Dit moet die positiewe nuus wees.
“Ons gaan uit dit uit heeltemal anders begin dink.”
Ook met die tuisbly van kinders, sê Van Essen, kan daar straks nou nuwe maniere kom om hulle besig te hou of daar kan terugbeweeg word na ou gebruike.
“Miskien is dit die positiewe goed wat hieruit kom.
“Die familiebande word dalk weer versterk.
“Miskien is dit die manier van Bo af om ‘n slag te sê: Kom terug aarde toe. Raak normaal en leer wat jy moet leer.
“Dat jy darem weer jou pa en ma kan aanspreek terwyl jy om ‘n etenstafel eerder as voor die TV sit.”
Kinders is heeldag by die huis. “So jy moet vir hulle ‘n programmetjie opstel om hul besig te hou. Hulle kan tog nie die hele dag voor die TV of op die fone lê nie.”
“Hulle moet darem iets doen ook. Soos byvoorbeeld buitekant in die tuin rondhardloop. Met ander woorde daar moet iets gedoen word.
“Hier kan ‘n klomp positiewe goed ook uitkom. Dink uit die boks uit.”
Van Essen sê dalk kan die tuisbly van kinders ook tot ‘n nuwe leestendens aanleiding gee omdat “kinders nie meer boeke lees nie, maar nou aangemoedig kan word om te lees”.