Planne vir R300m varkabattoir by Malmesbury
Planne om die mees moderne varkabattoir in Afrika buite Malmesbury te bou, is in ‘n gevorderde stadium.
Daar is reeds begin met die omgewingsimpakstudie en as alles volgens plan verloop en die nodige goedkeurings verkry word, kan grondwerke reeds vanjaar begin.
Die aanleg van ‘n geraamde koste van R300 miljoen sal volgens die huidige planne 3200 varke per dag (400 per uur) kan slag.
Winelands Pork, die bedryfsonderneming van Labelle Street Properties, se huidige Stikland-aanleg met sy kapasiteit van 1600 varke per dag sal dan gesluit word wanneer die Malmesbury-aanleg straks al vroeg in 2022 in produksie kom.
Nadat ‘n paar potensiële standplase ondersoek is, is dié een op Erf 12485 buite Malmesbury as die mees geskikte uitgewys. Dit is naby die Kalbaskraalpad en die klein vliegveld agter JAR Transport geleë.
Die abattoir word so beplan om naas die afvalwater wat na die Malmesbury rioolwerke sal gaan, geen afvalprodukte te hê wat na ‘n stortingsterrein vervoer hoef te word nie. Die vernaamste afvalprodukte wat daardeur verwerk sal word is die hare, bloed, hoewe en nie-eetbare binnegoed.
As als volgens plan verloop, sal sowat 70% van die water weer vir gryswaterdoeleindes op die perseel aangewend word. Die afval en afvalwater sal met ‘n pirolise-aanleg verwerk word waar ook energie opgewek kan word om water te verwarm en in die netwerk te stoot.
Die pirolise is ‘n termiese ontbindingsproses van materiale by verhoogde temperatuur.
Daar word ook tans beplan om verder energie met sonpanele op te wek. Die terrein van sowat 12 hektaar sal geboue van 26 000 m² huisves.
Deel van die beplanning is ook om die aanleg saam met die kontoere van die terrein te bou en visuele impak op dié manier ook te beperk en van nie-reflekterende boumateriaal gebruik te maak. Landskapelemente sal gebruik word om die visuele impak verder te versag.
Die planne maak voorsiening vir die berging van 2 megaliter water in ‘n reservoir om waterbehoeftes te bestuur.
Die projek sal ook werksgeleethede skep.
*dié courant het met die besturende direkteur van Winelands Pork, Ken Polley, gepraat oor die konsep en die redes waarom hulle wil uitbrei.
“Ons is baie positief, as jy vat hoe die res van die wêreld vark eet. Vark word baie min geëet in Suid-Afrika.
“Dit is seker maar omdat mense miskien nie kundig is daaroor nie – grootgeword het daarmee nie. Maar ons is baie positief en glo dit moet draai. Ons sal graag die per capita varkvleisverbruik wil sien groei.
“Varkvleis is van die goedkoopste proteien wat jy kan kry.
“Ons is groot in die Wes-Kaap. Ons voorsien al die kleinhandelgroepe en slag seker omtrent 50% van die provinsie se vark tans by Winelands Pork en doen ook uitvoere.”
Oor die beplande abattoir-aanleg. “Ons het van die begin af gesê ons moet groen gaan.”
“Die afvalverwerkingsaanleg gaan reukloos wees. Niks wat na die stortingsterrein geneem moet word nie. 100% niks. Dit is ‘n pirolise-aanleg en nie ‘n leweringsaanleg nie. ‘n Leweringsaanleg het ‘n reuk aan hom.”
Winelands Pork word besit deur aandeelhoudende produsente waaronder die eienaar van die Chalala-plase buite Malmesbury en Hazeley-plase, Dave Osborne, en ook die Brink-familie van Riebeek-Wes.
Polley sê hulle is tans besig met die impakstudie. “Dit gaan eers einde Augustus, begin September voltooi wees. Ons skat so.
“Die abattoir word so beplan met die kapasiteit omdat ons glo daar gaan groei wees en uitbreiding en dat daar kan varkplase bykom.”
Hy sê die huidige Winelands Pork-aanleg is in baie ou geboue waar die onderneming sedert sy ontstaan in 2001 toe dit by die destydse Spekenham oorgeneem is, gehuisves word .
Die bestaande aanleg is ‘n klompie jare gelede opgegradeer, maar daar is ‘n behoefte vir verdere uitbreiding om onder meer die voorverpakkingsaanleg te vergroot. Die perseel van ongeveer 1 hektaar laat dit egter nie toe nie. Die mark se vraag na produkte wat klaar verpak en gekodeer word om ook te help met die naspeurbaarheid raak groter.
Hy vertel Winelands Pork doen ‘n bietjie uitvoere na Angola toe. “Dit is moeilik omdat hulle ook produk van Brasilië kry teen baie lae pryse met Brasilië se produk wat gesubsidieer word.
“Ons doen ook heelwat uitvoere na Namibia en begin nou met die eerste besending na Mosambiek ook.
“Op die oomblik voer ons ‘n bietjie uit na Hong Kong. Dit sou baie meer wees, maar die Corona-virus het amper alles gestop.
“Lugvrag begin ‘n probleem raak omdat mediese en ander produkte voorkeur kry. Daar is beperkte vliegtuie ook.”
Polley sê hulle “wil vreeslik graag in Sjina ook in die mark kom. Hulle varkbevolking is deur die varkgriep amper heeltemal uitgewis en daar is 1,45 biljoen mense wat ‘n ontsettende lot vark eet. Ons sien dit as ‘n baie groot groeipunt vorentoe.”