Videovergaderings hulp vir besighede in dié tyd
Die groeiende vraag na video-konferensiefasiliteite vir ondernemings en groepe het met die Covid 19-krisis vir sommige wêreldplatforms tot 500% opgeskiet.
Só vertel die besturende direkteur van Presentation Solutions, Swartlander Adriaan Vlok.
Hy het met dié courant gepraat oor die tendens en toeganklikheid van videokonferensies vir klein en groot ondernemings.

Een van die gewildste platforms is Starleaf, wat ook ‘n gratis diens vir tot 20 deelnemers/verbindings het en die geleentheid bied om van haas enige plek in die wêreld te werk en in te skakel vir ‘n koferensie of vergadering.
Dit behels die aflaai van sagteware of ‘n toep en dan kan tot 20 verbindings gelyk op ‘n videokonferensie inskakel vanaf hetsy hul skootrekenaars, tablette of selfone. Hierdie fasiliteit is veral nou ‘n waardevolle hulpmiddel vir ondernemings en organisasies.

Vlok sê hul bemark verskeie platforms en bedien ook groot ondernemings landwyd.
Een so ‘n onderneming op Stellenbosch, vertel hy, het gister alleen ‘n totaal van oor die 4000 videokonferensieverbindings en bykans 70 000 gesamentlike minute op videokonferensies deurgebring.
Die videokonferensiefasiliteite kan uitgebrei word dat dit doelgemaakte hardeware met beter kamera-, klank- en eksterne verbindingstoerusting vir raadsale insluit.
Daar is ook opsies beskikbaar om die konferensies op te neem.
Volgens Vlok is die eenvoudige en gebruikervriendelikheid een van die redes waarom sommige platforms so gewild is.
Oor Starleaf sê hy die kwaliteit van oproepe – klank en beeld – maak dit baie gewild en dit is ook bekostigbaar – gratis in baie gevalle.
Van die ander platforms wat deur Presentation Solutions ondersteun word, sluit in Polycom, Tandberg, lifesize en Yealink.

Gepols oor die nodige bandwydte, sê hy dit hang van die verwagting af, maar sommige mense is tevrede met ‘n 384kb-lyn terwyl ander ‘n 1mb-lyn per verbindings verkies.
Hy wys ook daarop dat die oplaaispoed van bandwydte in die geval van ADSL en ander diensverskaffers dikwels laer is as die aflaaispoed en dat die kleiner een van die twee dan die een is om mee rekening te hou.
Voorts is dit ook belangrik dat kliënte daarop let dat diensverskaffers dikwels die diens so reguleer dat audio-visuele inhoud ‘n laer prioriteit geniet as van die ander inhoud.