SM keur R791m konsep vir bedryf, nuwe tariewe goed
Die Swartland se munisipale raad het Donderdag op ‘n dringende raadsvergadering die nuwe konsepbegroting (kapitaal en bedryf) goedgekeur.
Omdat daar nie publieke deelnamevergaderings kan plaasvind nie, is die tydperk vir kommentaar tot 30 April verleng.
Die begrote bedrag vir bedryfsuitgawes styg van die R757,191 miljoen in die huidige jaar tot R791,594 miljoen (‘n toename van 4,54%).
Die burgemeester, Tijmen van Essen, het gesê dit is die eerste keer wat die Swartland se kapitaal- en bedryfsbegrotings nou meer as ‘n biljoen rand beloop.
Die begroting vir bedryfsinkomste styg van 7,32% van R855,620 miljoen tot R918,266 miljoen (dit sluit kapitaaltoekennings en donasies in).
Daar word voorsien dat die totale salarisbegroting van R230,847 miljoen tot R252,814 miljoen sal styg. Dit sluit voorsiening vir addisionele noodsaaklike poste ten bedrae van R7,480 miljoen in.
Die munisipaliteit het ‘n verlaging in die belastingkoers goedgekeur oom voorsiening te maak vir die aangepaste nuwe algemene eiendomswaardasies.
Die belastingkoers daal met 22% en 17% (afhangende van die eindomskategorie).
Die koers vir eiendomsbelasting is beloop 0,5354 c/R vir residensiële eiendom, 0,7207 c/R vir oop grond, 0,7722 c/R vir sake-, en kommersiële- en nywerheidseiendom en 0,1339 c/R vir landbou-eiendom (gebruik vir landboudoeleindes).
Die stygings vir dienste beloop:
Elektrisiteit – 7,62% (Dit moet nog deur NERSA goedgekeur word)
Riool – 7,51%
Vullisverwydering – 6.6% en
Water – 6% (sien tabel)
Die konseptariefverhoging van 7,51% vir riool is bo inflasie, maar nodig om te verseker dié diens word nie teen ‘n verlies gelewer nie. Daar is noodsaaklike werk wat aan die rioolwerke in Moorreesburg en Darling gedoen moet word.