Skenkings gee huisvesting, kos vir hawelose mense
Terwyl die land en die streek in Covid 19-inperking is, word daar hard agter die skerms gewerk om die noodsaaklike dienste te verrig.
Daar is ook aksies om om te sien na mense wat nie eers ‘n huis het nie.
Op Malmesbury het inwoners begin om elke oggend vir haweloses in die dorp sop en brood uit te deel.
Antoinette Goosen vertel dit kom als uit skenkings van vroue wat hul harte oopgemaak het.
Sy bedank die Swartland se munisipale bestuurder, Joggie Scholtz, wat die nodige ondersteuning gegee het om die projek te loods.
Intussen het die munisipaliteit ook gekoördineer dat daar tente, wat deur die Weskus Distriksmunisipaliteit se rampbestuur bekom is, op die rugbyveld langs die Dieprivier opgeslaan word vir die hawelose mense.
Burgemeester Tijmen van Essen het aan dié courant gesê hulle wil soortgelyke aksies op die ander dorpe in die streek doen en daar word nog tente benodig.
Goosen vertel dat daar nou “soveel wonderlike goed gebeur.
“Dit is eintlik nie in ons hande nie. Hier is ‘n groter hand in beheer.”
Hulle het intussen genoeg skenkings ontvang om ook vanaand vir die mense op die rygbyveld brood en melk te kon uitdeel.
Raadslid Anet de Beer het ook vanaand skenkingklere en komberse aan die mense uitgedeel.
Goosen sê: “Die maklikste is as mense fisies net ‘n pot sop gee.”
Enigiemand wat nog wil help met die skenk en maak van die kos, kan Goosen skakel by 082 576 8113.