Latest

Swartland M kyk na belastinghulp; web-kragaankope

Die Swartland Munisipaliteit oorweeg om ‘n sogenaamde betalingsvakansie in te stel vir eiendomsbelasting en beplan ook om spoedig elektroniese betalings vir voorafbetaalde dienste soos elektrisiteit in te stel.
“Daar is ‘n groot behoefte om inwoners die geleentheid te gee om die dienste aanlyn te koop op die internet of met hul selfone. Dan kan die kode na hul fone ge-SMS word,” verduidelik die burgemeester, Tijmen van Essen.

“Ons wil eerder self ‘n stelsel uitrol as om dit na ‘n buite-instansie uit te kontrakteer, omdat ons nie vir die inwoners ekstra kostes op hul aankope wil gee nie. As hulle ‘n paar rand se aankope doen, moet daar nie nog ekstra gelde vir iemand anders betaal word nie. As ons die stelsel self behartig, sal ons ook deurlopend presies kan rekord hou van elke rekening.”
Van Essen het gesê daar is besluit om, weens die gesondheidsrisiko wat dit vir mense inhou, nie nou elektrisiteit- en watermeters te lees nie.
“Ons sal inwoners hierdie maand aanslaan op die gemiddelde van die laaste paar maande en dan, sodra ons weer die meters kan lees, sal die stelsel dit outomaties opwaarts of afwaarts regstel.”

Op ‘n dringende raadsvergadering verlede week is bevestig dat die topbestuur nou besluite kan neem oor noodsaaklike sake en dan net binne 60 dae aan die raad terugrapporteer.
“Ons moet mekaar help in hierdie tyd, maar dit help nie om net beloftes te maak nie.”
Hy verduidelik dat daar tans wetgewing bestaan waarbinne alle besluite geneem moet word.
Van Essen het aan dié courant gesê: “Ons sal waarskynlik die rente op agterstallige rekeninge afskryf.
“Ons het ook almal wie se rekeninge geblok was weens betalings, aangesluit en gaan vir eers ook nie nou blok nie.”
Oor die moontlike eiendomsbelastingtoegewing, sê van Essen hulle is bekommerd dat die nie-heffing van belasting net eiendomseienaars sal baat en nie na huurders deurgegee word nie.
“Ons sal dit met verhuurders wil uitklaar dat hulle wel die verligting deurgee.”

Al die moontlikhede word ondersoek en ook of dit na alle eiendomme uitgerol moet word.
“As ons dit sou doen, kan die totale koste daarvan die munisipaliteit straks R30m of R40m kos,” voeg hy by.
Onder huidige wetgewing word die owerheid gedwing om wel eiendomsbelasting te hef. Indien die wetgewing nie verander nie, is daar ook ‘n moontlikheid dat daar slegs uitstel gegee sal word vir die betaling. Die rente kan dan moontlik afgeskryf word maar die eiendomsbelasting en die verbruik van dienste moet in terme van huidige wetgewing wel betaal word, al word die betaling daarvan oor ‘n aantal maande verdeel sonder boetes en/of rente.

Leave a Reply

error: Content is protected !!