LatestOns Mense

Dr. Elna Dürr onder graduandi op US virtuele plegtigheid

Wanneer die Universiteit van Stellenbosch môre vir die eerste keer ooit sy gradekwalifikasies met ‘n virtuele konferensie eerder as ‘n gewone gradeplegtigheid toeken, sal ‘n Swartlander onder diegene wees wat ‘n doktorsgraad ontvang.
Dr. Elna Dürr het die uitdagings wat die lewe na haar toe gegooi het ten spyt, pas op 31 haar PhD-graad in sielkunde verwerf.

Dié boorling van Malmesbury het, soos twee van haar sibbe, Karli en Pieter-Jans, ‘n genetiese toestand wat veroorsaak het dat hul retinas nie behoorlik ontwikkel het nie en dus siggestrem is.
Maar aan deursettingsvermoë in dié ouerhuis van John en Mari Dürr ontbreek dit nie.
Sy het vier jaar gelede haar M.-graad in sielkunde voltooi en nou haar doktorsgraad met die proefskrif – A qualitative interpretive study exploring the wellbeing of slaughterers – a comparison between Jewish, Muslim and secular slaughterers.
Haar twee studieleiers was dr. Zuhayr Kafaar van die departement sielkunde en prof. Louw Hoffman, hoogleraar in vleiskunde.
Sy het aan die Pionierskool op Worcester gematrikuleer voor sy op Stellenbosch gaan studeer het.
Oor die praktiese uitdagings om te studeer, vertel dr. Dürr aan dié courant dat die universiteit baie behulpsaam is en dat daar reeds baie gedoen is om studente met hierdie uitdagins te help. Daar is ook ‘n spesiale afdeling waar dié studente se boeke en notas geskandeer en op rekenaar gelaai word. Dan het sy braille en ander hulpmiddele soos Jaws-sagteware gebruik.
Dr. Dürr het aan die einde van 2015 haar magistergraad voltooi met haar tesis oor die veerkragtigheid van gesinne met intellektueel gestremde kinders.

Dit het getoon dat geloof ‘n groot rol speel in die gesinne se veerkragtigheid en onder andere ook die sosiale ondersteuning van vriende en familie en deursettingsvermoë.
Baie van die ouers se bekommernis is wat die heenkome van hul kinders sal wees, as hul nie meer daar is nie.
Sommige is wel gerus dat daar sorgsentrums is waar hulle kinders versorg sal kan word.
Dr. Dürr se doktorale studie het gehandel oor hoe affekteer die werk wat voltydse slagters doen om daagliks duisende diere dood te maak, hul fisiese, sosiale en emosionele welstand.
Daar is internasionaal nog nie baie studies oor dié onderwerp gedoen nie.
Oor die bevindinge van haar proefskrif vertel dr. Dürr dat sy, anders as internasionale studies, nie kon bevind dat die slagters se werk tot geweld in hul sosiale en gesinslewe lei nie.
“Dit het wel op enigiemand se emosionele welstand ‘n invloed.
“As hulle begin, ervaar hulle hartseer en angs en voel skuldig (veral met kleiner diere – baie wil dit nie doen nie), maar die gevoel hou net vir ‘n week of paar dae en dan raak hulle gewoond.”
Hulle besef dan hulle moet dit doen – mense moet eet.
“Hulle raak dan afgestomp en verloor gevoel vir die diere.
“Dit is gevaarlik, want as hulle nie meer daardie gevoel het nie, kan hulle die diere mishandel of selfs ander mense seermaak.”
Sommige slagters het wel aangedui hulle word maklik kwaad, maar kalmeer weer vinnig.


Die een Joodse slagter het gesê dit is belangrik om jou deernis vir die diere te behou.
In die studie het sy ook bevind die slagters werk lang ure en hul inkomste stem nie altyd ooreen met die werk wat hulle doen nie.
Dit plaas druk op hul fisiese en emosionele welstand.
“Die Moslemslagters verdien wel ‘n bietjie meer en die Jode verdien goed, omdat hulle geleerde Rabbi’s moet wees.”
Daar is verskillende slagmetodes waaronder die gebruik van gas en skokmetodes, maar die Jode glo nie daarin om die dier vooraf te skok nie – hulle moet lewendig gesny word.
Hulle moet ook met een haal gesny word om met een haal dood te wees omdat die diere nie mag ly nie.
Die Moslem- en Joodse slagters doen dit uit geloofsoortuiging omdat dit ‘n geloofsroeping is.
Hulle gemeenskappe kan net vleis eet wat deur mense van hul geloof geslag is.
Dr. Dürr sê een van die aanbeveling is dat slagters roteer om nie die hele tyd dieselfde werk te doen nie. Dit kan verhoed dat hulle vermoeid raak en foute maak.
Dit sal ook goed wees as daar beradingsmoontlikhede is vir moontlike ontlonting as hulle die behoefte het.
“Dit is moeilik om vooraf te bepaal of iemand geskik is vir die werk, maar psigometriese toetse sal beslis help.”

*Die Covid 19-pandemie het ‘n ingrypende effek op haas elke faset van ons gemeenskap.
Dit raak ook gegradueerdes wat nou Maart/April-gradeplegtighede op hul onderskeie kampusse sou bywoon.
Die Universiteit van Stellenbosch het, soos miljoene instansies reeds die afgelope weke, hul ook tot die internet gewend om môre, 3 April, om 14:00 ‘n virtuele geleentheid aan te bied waarop die 3278 graduandi en familie kan inskakel. Die toekenning van die kwalifikasies sal in afwesigheid van die graduandi deur die kanselier, oudregter Edwin Cameron, en die rektor, prof. Wim de Villiers, behartig word.
Die virtuele toekenning van die kwalifikasies – in die vorm van ‘n video wat afgelaai kan word – sal nie langer as 10 minute duur nie ten einde datakostes so laag moontlik te hou. Daar sal Vrydagoggend (môre) ‘n skakel na die virtuele verrigtinge op die US se tuisblad (www.sun.ac.za) aangebring word. ‘n Video-opname van die verrigtinge sal ook op d​ie webblad beskikbaar bly vir diegene wat later daarna wil kyk.
Vergeleke met die 2018 akademiese jaar, het 2019 weer ‘n toename in nie net die aantal graduandi opgelewer nie (9120 vergeleke met 2018 se 9007), maar ook wat betref die aantal doktorsgrade (361 vergeleke met 2018 se 308).
Maart/April-graduandi sal steeds ook die geleentheid hê om aan die Desember-plegtighede deel te neem, na gelang van die heersende omstandighede teen daardie tyd.

Leave a Reply

error: Content is protected !!