Swartland M verras; sny 20/21 verhogings tot so ver as 0%
Die Swartland Munisipaliteit het gister op sy tweede virtuele raadsvergadering ‘n ingrypend aangepaste begroting goedgekeur met etlike tariewe wat midde die pandemiekrisis nie vir die nuwe boekjaar verhoog nie.
Dit is ‘n beduidend aangepaste begroting van die konsep wat op die laaste voorgrendeltyd-vergadering aanvaar is.
Die nuwe aanvaarde begroting wat aangepas is met die realiteite van die Covid-pandemie in gedagte, toon nou ‘n nul-verhoging vir die eerste 10kl water, ‘n nul-verhoging vir riooldienste en ‘n nul-verhoging vir vullisverwydering.

Daar is ook besluit om die konsepkorting op eiendomsbelasting wat op 17 en 22 persent onderskeidelik aanvaar is vir besigheids- en residensiële persele verder te verhoog met 3% elk om dit nou op 20% en 25% onderskeidelik te staan te bring.
Ook die elektrisiteitstariewe se verhoging is van 7,62% gesny tot 6,22% – die vroeë aanduiding van die verhoging wat deur Nersa voorgeskryf sal word.
Hierdie ongekende toegewings van die munisipaliteit stuur ‘n sterk boodskap na die gemeenskap van die streek dat die munisipaliteit bereid is om op dié manier by te dra tot die groot krisis waarin die land en die streek en sy mense gedompel is.
Die effek van die toegewings is as’t ware ‘n netto-afname van R61,79 miljoen in die uitkoms van die bedryfsbegroting wat aanvanklik ‘n begrote R40,95 miljoen wins sou toon en nou ‘n verlies van R20,84 miljoen vir die 2020/21 boekjaar.
Die burgemeester, Tijmen van Essen, het tydens sy begrotingsrede beklemtoon “dat dit seker die moeilikste begroting was in die 20 jaar wat ek op Swartland se raad dien”.

Hy het om verskoning gevra dat hy dit vir die “bestuurspan, en meer spesifiek die hoof finansiële beampte en die munisipale bestuurder, baie moeilik gemaak het om ‘n sinvolle begroting op die tafel te plaas in hierdie moeilike tyd.
“In ‘n baie kort tyd het ons lewens totaal verander deur die grendeltyd en die moeilike finansiële tydperk waarin ons tans verkeer.
“Dit het ons genoodsaak om die konsepbegroting soos goedgekeur op 26 Maart totaal te hersien.
“Wat dit baie moeilik maak, is dat ons as munisipaliteit nog altyd ons dienste moet voorsien, maar dat die inwoners nie meer die vermoë en inkomstes het om ons te kan betaal nie.
“Gelukkig is Swartland deur die jare gelei deur ‘n goeie munisipale raad. Die raad, die munisipale bestuurder en die finansiële hoof het ‘n baie streng finansiële beleid gehandhaaf en ons het nou iets om op terug te val gedurende hierdie moeilike tyd.
“Baie dankie vir al die harde werk. Dit word opreg waardeer.”
Hy het ook gesê daar is besluit om nie meer voort te gaan met die opneem van ‘n lening vir R50 miljoen vir die rioolwerke van Moorreesburg en Darling nie, omdat dit net te duur is en daardie projek nou ook uit eie fondse gefinansier sal word.
Die aanvaarde finale bedryfsbegroting vir 2020/2021 beloop nou R810,67 miljoen (vanaf die R791,59 miljoen in die konsepbegroting) en die finale kapitaalbegroting beloop R212,43 miljoen (vanaf die R216,35 miljoen in die konsepbegroting).
Die nuwe aanvaarde aanpassings vanaf die konsepbegroting sluit in:
• ‘n Eiendomskorting tot ‘n maksimum van R300 000 van die totale waardasie vir senior burgers en gestremde persone.
• Korting op eiendomsbelasting word verhoog van R15 000 tot R50 000.
•Verhoogde toewysing van 2kl gratis water vir alle residensiële verbruikers vir die laaste drie maande van die boekjaar 2019/2020 (April, Mei en Junie) en vir die res van die grendelperiode in die nuwe boekjaar tot ‘n maksimum van 6 maande (vanaf Julie 2020).
Daar is ook reeds besluit dat geen elektrisiteitsmeters gedurende die grendeltyd gesny word nie.

Rente op uitstaande munisipale rekenings word eers vanaf die 8ste gehef om langer geleentheid te bied vir betaling asook toegewings rakende rente op afbetalingsreëlings oor die grendeltyd.
Daar is ook besluit dat die aankoop van elektrisiteit met kredietkaarte in die nuwe jaar ingestel sal word.
Die geskatte verlies aan inkomste weens die nuwe aangepaste tariewe is soos volg:
Weens die verdere korting op eiendomsbelasting: R3 522 425
Weens die ekstra 2kl water vir elke huishouding: R1 653 966
Weens die sny van die verhoging in watertariewe: R3 082 548
Weens die skrap van die verhoging vir riool: R2 918 559
Weens die skrap van die verhoging vir vullisverwydering: R1 990 627
Onder die ekstra aanbevelings vir die volgende drie jaar wat deur die burgemeester voorgelê is, tel dié spesiale projekte:
• ‘n groot gemeenskapsopvoedingsprogram om rommelstrooi te bekamp wat deel uitmaak van die vergroeningsprojek;
• beveiligingsinisiatiewe in alle wyke deur middel van onder meer die instel en ondersteun van straatkomitees;
• die aanbring van veiligheidskameras op strategiese posisies (voorkeur moet gegee word aan kameras wat kan draai en ‘n groter sigveld dek);
• die aanplant van bome as deel van RSEP.