Latest

MEWA op Darling skep meer werk; maak 10 000’e maskers

Covid 19 het reeds tot talle werksverliese gelei, maar op Darling het ‘n onderneming sy werskmag in een afdeling van 4 tot reeds 40 uitgebrei en beplan om binnekort nog mense in diens te neem.
MEWA Industrial Holdings is ‘n spesialis-ingenieursmaatskappy wat voor die pandemie slegs die water in die tekstielnywerheid begin toets het, toe die inperkings en groot vraag na maskers kom.
Hulle het in die afgelope twee maande reeds honderde duisende maskers vervaardig, vertel eienaar David Marks aan dié courant.

MEWA kom met ‘n ryke geskiedenis van 5 geslagte innoverende ingenieurs.

Marks vertel een van hierdie voorouers van hom was die ontwerper van die bekende London Bridge wat in die 1800 gebou en sedertdien aan Amerika verkoop is.

Die MEWA-embleem is in Suid-Afrika baie bekend vir onder meer die vlekvrye staalprodukte wat sedert 1923 hier vervaardig is.
Marks sê sy oupa, Cecil Stanley Marks, het toe die onderneming in Kaapstad begin.

Dit is later jare verkoop aan City Metal Products, die voorloper van die huidige Franke SA, deel van dié Switserse groep.

Marks het die MEWA handelsmerk weer geregistreer en is reeds die afgelope 25 jaar in Darling van waar hulle baie gespesialiseerde hout-, staal- en steeningenieursprojekte doen.

Dit sluit die spesialisontwerp en bou van onder meer wenteltrappe (ook van hout) asook brûe soos die een by die Groenpunt Park in.

Hy vertel die besluit om maskers te vervaardig was nie geneem om geld te maak nie, maar om uitgawes te dra en werk te skep in ‘n gemeenskap soos Darling, waar daar wesenlike werkloosheid heers.

Die maskers wat deur MEWA ontwerp en vervaardig word, voldoen aan mediese vlak 2-standaarde (SANS) en kan dus deur mediese personeel en dokters gebruik word.

David Marks

Die rede, vertel Marks, waarom hulle besluit het om nie Vlak 3 maskers (soos die N95) te maak nie, is omdat dit aansienlik duurder is en nie so groot in aanvraag nie.
Duisende maskers uit dié Swartlandse fabriek word nou reeds deur ondernemings en onder andere tehuise vir bejaardes, die polisie en die Wes-Kaap se regering gebruik.
Hulle maak nou ook kleurvolle maskers vir ondernemings soos Nando’s.
Op 18 Maart het hulle met twee naaimasjiene en vier werknemers begin en 30 maskers per dag vervaardig.
Die getalle het gegroei tot 5 masjiene, 10 werknemers en 1000 maskers per dag op 10 April en nou word daar deaagliks ver oor 10 000 maskers met verskillende ontwerpe (ook van ander kliënte) vervaardig.

Omdat die bedoeling is om slegs uitgawes te dek en surplusse in die gemeenskap terug te ploeg en werk te skep, is daar ook begin met ‘n sogenaamde crowd funding-projek om MEWA in staat te stel om maskers gratis aan die Polisie te voorsien.

Marks sê aan dié courant dat hulle voorsien dat daar nog vir geruime tyd maskers vervaardig sal word en dat hulle reeds begin het met vooruitbeplanning om ander verwante projekte aan te pak sodat hulle kan voortgaan om werk aan die personeel te verskaf.
Die maatskappy se beleid is om mense te bemagtig deur opleiding en die aanleer van meer vaardighede.

“Ons het in die verlede en fokus steeds op mense om die werk te doen eerder as geoutomatiseerde prosesse.”
Hy sê al is daar verskillende grade maskers, is dit beslis beter om ‘n masker te dra as geen masker nie.

“Daar is dus ‘n plek en mark vir almal wat maskers vervaardig. Ons is ook bereid om ons kennis te deel of entrepreneurs te help om hul ontwerpe net effens aan te pas vir meer effektiwiteit.”

Hy verduidelik ook dat die bedoeling van maskers nie is om daardeur in en uit te asem nie, maar dat daar genoeg spasie is vir lugvloei bo en onder.
Die publiek en ondernemings kan van die maskers aankoop in klein of groot hoeveelhede. Skakel MEWA by 022 492 3851 met enige navrae.

Leave a Reply

error: Content is protected !!