LatestSchools

Skoolhoofde vertel van gereedheid en bywoning

Al het talle skole in die Swartland vandag graad 12- en graad 7-leerders terug ontvang as die eerste fase van heropening van skolein ide Covid-pandemie, het sommige skole baie kinders gehad en ander weer geen.
Daar het in aanloop tot die implementering van ‘n infaseringsplan grootverwarring ontstaan omdat die nasionale en provinsiale onderwysowerhede verskillende verklarings uitgereik het.

Die nasionale departemente het laat gister die aanvanklik aangekondigde datum van vandag vir die terugkeer van dié grade wat ook so in die Gazette gepubliseer is na 8 Junie gewysig.
In teenstelling daarmee het die Wes-Kaap se onderwysdepartement gesê daar sal vandag voortgegaan word met die ontvangs van kinders, “waarvan sommige reeds in koshuise aangekom het”.
Skoolhoofde met wie dié courant vandag gepraat het, het bevestig dat die teenstrydighede verwarring veroorsaak het.

Wesbank Sekondêr se skoolhoof, Vincent Paramore

Die nuwe skoolhoof van Wesbank Sekondêr, Vincent Paramore, sê hulle “het geen leerling gehad vandag nie.
“Dit is die beheerraad se standpunt dat hulle wil hê eers alles moet in plek wees voor hulle die leerders terug het.
“Plus die absolute verwarring wat gister geheers het, het baie daartoe bygedra.

“Ek as ‘n opvoeder was taamlik deurmekaar gewees. Het nie geweet wat om te doen nie. Hoeveel te meer ons arme kinders en die ouers.
“Ons personeel rapporteer elke dag en ons is taamlik hard besig.”
Toe dié courant hom sterkte toewens, het Paramore opgemerk: “Ons het al die sterkte nodig wat ons kan vind.”

Kallie Rautenbach van die Laerskool Swartland sê hulle het 84% bywoning gehad. Die skool se Graad 7-klas is 134. Hulle het die groep in twee gedeel en elke groep sal dan elke tweede dag skool bywoon.
“Dit is ‘n interessante tyd, maar dit is ook eintlik aan die anderkant ‘n wonderlike tyd waarin ‘n ou leef in terme van die geskiedenis.”
“Dit is rerig ‘n groot uitdaging.”

Laerskool Swartland se hoof, Kallie Rautenbach

“Ons is reg en aan die gang.”
Hy sê feitlik almal wat nie gekom het nie, is onderliggend ‘n bietjie siek of nie reg nie en dan is daar een of twee ouers wat aangedui het hulle “wil net eers die kat uit die boom uit kyk.”
Oor verwarring, sê Rautenbach: “Die ministers veroorsaak baie keer meer chaos as iets anders.”

Oor die voorsiening van die nodige voorgeskrewe materiale sê hy: “Al maak hulle ‘n ou soms bietjie kwaad, moet ek eerlikwaar sê in terme van die voorsiening van materiaal en goed wat die departement moet doen, het hulle wel voorsien wat hulle moes.”

John Stewe van Schoonspruit Sekondêr

John Stewe van Schoonspruit Sekondêr het aan dié courant gesê daar was vandag 12 leerders uit die matriekklas van 216.
Daar is 13 busroetes waarvan slegs op een roete 1 kind skool bygewoon het. Die ander 11 leerlinge is uit Malmesbury self.
“Dit is ‘n verwarrende ding hierdie hoor. Dit is vreemd.
“Hoe moet hulle weet? Wie moet weet? Wie doen die regte ding”.
“Die skool is oop in elk geval indien kinders wil kom. Alles is in plek by die skool.”

Justus Schoonraad, hoof van die Hoërskool Swartland, sê daar is 155 matrieks en hul het vanoggend 141 getel. Daar is wel ‘n paar wat bietjie later gekom het en ook 4 wat weens chroniese mediese toestande toestemming het om met afstandonderrig voort te gaan.
Die skool het ook die graad alfabeties volgens vanne in twee groepe verdeel waarvan die eerste groep met vanne A tot J die een dag sal kom en dié met vanne K tot Z dan die volgende dag. Hy sê hulle het die skooldag nou met een pouse in lang periodes van 57 minute opgedeel.

Justus Schoonraad van Hoërskool Swartland

Met die indeling sal geen klasse groter as 20 leerders wees nie.
“Ons behou die reg voor om later nog ekstra klasse in die middag aan te bied as ons sien ons kom nie deur die sillabus nie.
“Maar ons dink in hierdie stadium met die Junie-eksamen wat weg is, sal ons genoeg tyd hê.
“Onthou ons het ook nie sport nie. So jy spaar ook die tyd wat jy nou bietiie stadiger gegaan het omdat daar sport was.

“Ek dink ons behoort maklik deur die sillabus te gaan. Ek weet skeinat het altyd ‘n probleem om hulle sillabus klaar te maak. So oor so ‘n maand van nou af sal ons kyk na fisiese wetenskap en lewenswetenskap en wiskunde vir ekstra klasse of middagklasse of Saterdagklasse of wat ookal.”

Schoonraad sê die matrieks was vandag glad nie angstig nie. “Hulle was eintlik verskriklik rustig. Hulle was bly om onderwysers en medemaats te sien. Hulle was regtig regtig positief toe hulle vanoggend by die skool kom.”
Hy sê die verwarring oor die naweek is “maar net swak leierskap.
“Ek is bly ek is in die Wes-Kaap se onderwysdepartement. Dat mens leierskap gehad het wat net eenvoudig standpunt ingeneem het.”

Leave a Reply

error: Content is protected !!