FEATURED

‘Toets alarms gereeld en hou jou bure op hoogte’

Met inbrake wat steeds in vlae kom en gaan, het dié courant by ‘n plaaslike sekuriteitsmaatskappy aangeklop vir sekuriteitswenke.
Met gevorderde tegnologie is daar deesdae meer en meer opsies, vertel Altus Koen van Multiple Security Services, “en ons sal binnekort aan kliënte ‘n verdere beveiligingsopsie kan bied.

“Intussen is dit belangrik om jou alarm en paniekaktiveerder elke maand te toets. Lig net jou moniteringsmaatskappy vooraf in.
“Die jaar en vakansietye is nou deurmekaar met die pandemie, maar laat weet ons ook as jy weggaan. Anders vermors ons kosbare reaksietyd wanneer die beheerkamer jou probeer skakel nadat ‘n alarm afgegaan het.”
Koen sê dit is altyd ‘n goue reël en een van “die belangrikste wenke om te verseker jou perseel is verlig”.
Mense moet ook maar net altyd seker maak “elkeen in die huis weet presies hoe hul alarmstelsel werk en onthou om die paniekaktiveerder 1 of 2 sekondes in te hou.

“Die tendense in die verlede het ook altyd gewys dat daar in die winter en met reën meestal ‘n toename in inbrake is, omdat baie mense dan nie elders werk kry nie. Die pandemie kan moontlik ‘n verdere bydraer tot dié tendens wees.
“Een van die grootste probleme is ook dat slagoffers dikwels nie ‘n diefstalsaak in die howe deurvoer nie en die diewe dan sonder ‘n rekord wegstap. Net om die volgende keer dit weer te doen,” sê Koen.
“Dit is ook goed om seker te maak jou alarmmaatskappy het toegang tot jou perseel en weet van nuwe honde op die perseel.
“Maak maar gereeld seker dat jou sekuriteitmaatreëls soos elektriese omheinings in werkende toestand is.”
Dit is ook altyd goed om foto’s en lys (al is dit digitaal) van jou waardevolle items elders te stoor weg van jou tuisrekenaar.

Hou maar bure op hoogte as jy nie tuis gaan wees nie, sodat hulle ‘n ogie kan hou en ook weet waar om jou te kontak indien nodig.
Hulle kan ook help om die beweging van vreemde mense en voertuie in jou buurt en straat te help monitor.
“Moenie enigiets van waarde onnodig buite jou huis of onbedek in jou voertuig laat nie,” het Koen bygevoeg.

Leave a Reply

error: Content is protected !!