Varsgroente-man gryp grendelgeleenthede
Die grendeltyd het besighede swaar getref en die pandemie het vir baie ook ‘n nuwe gesondheidgevaar gebring.
Maar, sy gesondheid ten spyt, het Eldavinn Davids (32) van Malmesbury die risiko’s opgeweeg en hy kon nie sien hoe die geleenthede verbygaan nie.
Toe restaurante eers moes sluit en nie meer van sy onderneming, Mr Fresh, se aflewerings gebruik maak nie, het hy sy fokus verskuif en die vraag na tuisaflewering van heilsame vars groente en vrugte het skielik vertiendubbel.
Davids, wat reeds op 16 die eerste keer hartprobleme ontwikkel het met ‘n hartaanval en ‘n pasaangeër, ondersoek nou die volgende fase van uitbreiding en die moontlikheid van ‘n perseel van waar hy vars plaaslike produkte kan versprei en verkoop.
Hy het ook reeds in 2010 weens hartinfeksie ‘n opehartoperasie gehad.
Hy vertel dat dit als begin het toe hy drie jaar gelede vir ekstra inkomste soetrissies uit Vredendal by ‘n plaaslike naweekmark begin verkoop en met aflewerings begin het. Dit het aanvanklik stadig gegaan met verkope maar teen die middel van verlede jaar het hy voltyds begin om vars produkte te lewer aan ‘n paar groter kliënte soos Kaapse restaurante en ook tuisaflewering begin uitbou. Hy sê dit het later uitgebrei na plaaslike restaurante soos Cherry Lane, Pacino’s en die Sushi Buzz. Dit het net begin lyk of sy besigheid mooi begin optel en bietjie winsgewend begin raak, toe die pandemie toeslaan.
“Daar was reeds ‘n klompie tuisaflewerings in die Kaap en vyf of ses op Malmesbury, maar dit sou nie die pot aan die kook kon hou nie.”
Met grendeltyd moes hy eers bestekopname neem en het aanvanklik gehuiwer omdat hy hartprobleme het en bang was vir die risiko.
Davids vertel hy het dit met sy ma bespreek omdat sy kennis het in infeksievoorkoming en beheer en hulle het die nodige plan in plek gestel.
Hy het ‘n webblad met aanlynwinkel op die been gebring en ook meer aggressief via Whatsapp begin bemark en toe het die vraag net gestyg.
“Dit het vinnig van die vyf tot ses bestellings tot 50 en 60 opgeskiet.”
Hy lewer tans Vrydae in Malmesbury (aflewering gratis) en Saterdae in die Kaapse metropool af tot sover as Constantia.
Ons werk baie klinies en reinig ook als waarin die produkte verpak word, vertel hy.
Hy het aanvanklik net met sy motor afgelewer en daarna met ‘n sleepwa ook. Nou het dit so uitgebrei dat hy ‘n sleepwa met insolasie kon aankoop om die produkte verkoel te hou tot dit afgelewer word.
Dié entrepeneur glo dat die gerief van tuisaflewering, die beperking van plastiekverpakking en die varsheid en kwaliteit van sy produkte asook die goeie pryse ‘n groot rol gespeel het in die vraag.
Met die verslapping van regulasies, sê hy, het ‘n deel van die aanvraag ‘n bietjie getaan, maar daar is steeds ‘n groot behoefte en hy kon ook weer aan sommige restaurante begin lewer.
Hy sê die feit dat hy daarna streef om sover moontlik plaaslike produkte te voorsien, speel ook ‘n rol en hy wil hierdie aspek verder uitbou.
Tot dusver het hy die meeste van sy produkte vroegoggend op die mark gaan koop, maar hy wil begin om plaaslike produsente se produkte aan die plaaslike huishoudings en restaurante te lewer.
Davids vertel dat die aantal entrepeneurs wat vars produkte op die Kaapse mark kom aankoop, sedert die aanbreek van grendeltyd ook die hoogte ingeskiet het. Dit maak dit ook baie meer kompeterend.
Hy wil plaaslike boere ondersteun en wil ook aan ander plaaslike produsente van gesonde leefstylprodukte ‘n kanaal bied om hul produkte te verkoop.
Sy produkte sluit reeds sap en neute ook in en hy wil eiers, meel, brood, beskuit en gesondheidsepe en ander byvoeg.
Davids meen die gasvryheidsbedryf sal stadig weer op die been kom en hy wil graag aan meer van dié ondernemings in die Swartland voorsien.
Intussen sal hy ook voortgaan met die tuisaflewering van voorafbestellings wat Donderdagmiddae sluit.
Hy sê hy het baie geleer en besef die belangrikheid om te diversifiseer. “Ek het grotendeels een tipe kliënt gehad en dit het my besigheid gekniehalter toe hulle gedwing was om tydelik te sluit.”
Davids, wat voorheen al in Viëtnam Engels onderrig het en ook ondervinding in die personeelwerwingsbedryf het, het ook fotografie studeer en voorheen bemarkingswerk gedoen.
Hy vertel dat Mike Rumble van Mother City Skydiving, wat ook swaar deur die pandemie en verbod op toerisme getref is, hom help met die ontwikkeling van sy sakeplan en -analise.
Die syfers lyk belowend en hulle glo die fokus moet wees om goeie kwaliteit vars plaaslike produkte aan die plaaslike gemeenskap te lewer.
Hy bestuur intussen sy gesondheid goed en sorg dat sy liggaam genoeg rus kry en geniet ook saam met Viyonne hul babaseun, Nebaskê.
Besoek gerus die webwerf by www.mrfreshproduce.co.za