Swartlandse ondernemers praat oor hul maskerfokus
Met maskers wat vinnig-vinnig deel van ons daaglikse uitrusting geword het en na alle waarskynlikheid vir ‘n tyd ook sal bly, het die vervaardiging en ontwerp van maskers ‘n mini-industrie geword.
Ook in die Swartland werk naaimasjiene nou reeds vir weke kliphard om maskers te produseer. Sommige vervaardigers produseer dit in groot hoeveelhede en ander hou dit steeds op klein skaal.
dié courant het met drie vervaardigers gesels en ook oor die ontwerpe en materiaal wat gebruik word.
Op Darling sê ingenieur David Marks van MEWA al is al die maskers nie ewe goed en effektief nie, is ‘n masker altyd beter as geen masker om ‘n mate van beskerming te bied. Dit beperk die groter virusdraende druppels wat in die lug vrygestel word en ook uitsak en op oppervlakke gaan lê waar mens dit op hul hande kan kry.
“Ons verwelkom dit dat daar so baie maskers gemaak word en is ook bereid om mense te help met raad, ook as hulle die ontwerpe wat hulle gebruik, net effe wil aanpas vir meer effektiwiteit.”
Hy verduidelik ook dat ‘n effektiewe masker lugvloei bo en onder toelaat en dat die bedoeling nie is om deur die masker asem te haal nie.
By MEWA word daar daagliks meer as 10 000 maskers vervaardig. Hy sê die bedoeling is om die vlak 2 goedgekeurde maskers wat hulle ontwerp het en vervaardig ná 10 keer se gebruik te vervang.
Marilyn Claasen van MCD op Abbotsdale het vroeër aan dié courant vertel hoe groot die aanvraag vir maskers is en dat hulle nie kon voorbly om te voorsien nie.
Op Malmesbury vertel Ohna Nel van Die Danssaal dat sy ook met die grendeltyd maskers by haar produkreeks gevoeg het.
Daar is verskillende groottes en verskillende tipes vir algemene gebruik en ook vir diegene wat harder werk. Dit is, sê Nel, belangrik om ‘n masker te dra wat gemaklik is, anders hang dit dalk pap of peuter jy die hele tyd daarmee en word die effektiewe beskerming op dié manier in die wiele gery. “Maskers het, soos voorspel, vir baie ook ‘n modebykomstigheid geword,” sê sy.
Nel voeg by dat dit vir haar belangrik was om te hou by die regulasies wat uitgereik is vir ‘n drielaagmasker met ‘n filter en ook om maskers te maak wat prakties is. “Ek gebruik byvoorbeeld ‘n sagter materiaal aan die binnekant wat teen die gesig is omdat dit dan sagter op die vel is. Ook is dit belangrik om materiaal te gebruik wat nie die vog absorbeer en later ‘n papnat masker tot gevolg het nie.”
Sy sê daar is verskillende maskeropsies met rekkies om die ore asook dié met meer of een bandjie wat deur sommige klante verkies word.