News

Nuwe toerismeplan vir Swartland nou uitgestel

Die Covid 19-inperking het die Swartland Munisipaliteit (SM) genoop om die implementering van die streek se nuwe toerisme-struktuur tot aanstaande jaar uit te stel.
Op die owerheid se onlangse virtuele raadsvergadering is besluit om die bestaande diensvlakooreenkoms met die toerismetruktuur wat vandeesmaand tot ‘n einde kom, met ‘n jaar te verleng tot 30 Junie 2021.
Die munisipaliteit se 2020/21 bedryfsbegroting maak voorsiening vir ‘n bedrag van R816 489 wat in 4 kwartaallikse betalings aan die Kaapse Weskus Swartland Toerismevereniging (KWST) betaal sal word.

Die owerheid se verder bydrae sluit ook die salaris van een toerismebeaampte wat ‘n werknemer van die SM is asook die voorsiening van kantoorruimte op van die dorpe asook water en elektrisiteit in.
Die burgemeesterskomitee het by ‘n vorige geleentheid ‘n nuwe konseptoerismemodel om in te faseer goedgekeur. Dit is onderhewig aan ‘n konsultasieproses met die toerismesektor en ander potensiële vennote, soos Wesgro en die plaaslike wynroetes om die model te finaliseer. Volgens die nuwe plan sal ‘n groter begrotingsbydrae ook van die owerheid se kant nodig wees.
Daar word voorsien dat die konsultante wat die konsepplan saamgestel het, ook betrokke sal wees by die implementering daarvan.
Volgens die bestaande ooreenkoms is die KWST se kernverantwoordelikheid om die streek vir toerisme te bemark, te ontwikkel en te bevorder.

Dit sluit ook in om toerismevaardighede en bewustheid binne die plaaslike gemeenskap te ontwikkel en te bevorder vir die maksimum volhoubare voordele uit toerisme.
Aktief deel te neem aan die transformasie van die toerismesektor en, waar moontlik, behulpsaam te wees met die bevordering van opkomende besighede in die toerismebedryf.
Die KWST moet ook die erfenis- en kulturele bates van die omgewing identifiseer en bevorder en bydra tot die ontwikkeling van toerisme-infrastruktuur, dit stimuleer en koördineer.

Leave a Reply

error: Content is protected !!