News

Koop Plaaslik nou belangrik – stigter van Darling-veldtog

Koop plaaslik.
Veldtogte om hierdie beginsel te bevorder, word gereeld gesien.
Die Covid-inperking van beweging het dié beginsel opnuut onder die vergrootglas geplaas en baie ondernemings is nou nog meer afhanklik van elke stukkie plaaslike ondersteuning wat hulle kan kry.
Op Darling het Roy Adcock onlangs die Buy Local Darling/Yzerfontein-lojaliteitsveldtog geloods om plaaslike ondernemings te ondersteun en so ook die totale gemeenskap van diens te wees.

Adcock vertel aan dié courant dat, naas die aanvanklik uitgawe aan bemarkingsmateriaal, behoort daar daarna nie noemenswaardige uitgawes aan die veldtog te wees nie.
Die gemeenskap behoort te verstaan dat as hulle nie plaaslike ondernemings ondersteun nie, sal sommige dienste soos restaurante en ander later sluit en die gemeenskap armer laat, sê hy.
Die idee is om inwoners bewus te maak van die dienste wat plaaslik beskikbaar is, omdat mense weens die gebrek aan die kennis van wat in hul omgewing beskikbaar is, dit elders gaan soek.
Hulle wil ook ‘n produsentegids vir Darling en Yzerfontein publiseer om die veldtog te ondersteun.
“Die gemeenskap behoort ook eintlik skuldig te voel as hulle elders, eerder as plaaslik, ondersteun,” voeg hy by.
Adcock, wat vir 40 jaar in Australië gewoon het, het jare in die bemarkingsbedryf gewerk. Hy sê die beginsel van plaaslik ondersteun behoort ‘n lewenswyse te wees.
Die idee is om waardes te herkalibreer en inwoners te laat nadink oor wat dit beteken om plaaslik lojaal te wees.

Ook om na te dink oor die gedeelde voordele vir ‘n klein dorpie van konstruktiewe samewerking.
Adcock sê as dit ekonomies beter gaan, sal die impak van geld elders spandeer en uit die gemeenskap neem, kleiner wees, maar die huidige omstandighede vereis dat daar vir die afsienbare toekoms plaaslike gefokus moet word.
En, voeg hy by, die idee is nie om hoër plaaslike pryse te bevorder nie, maar eerder die groot voordele wat plaaslik koop vir die gemeenskap inhou.
Adcock sê die doel is ook om sover moontlik die beste en varsste en gesondste produkte aan inwoners te verseker.
“Daar is plekke in die wêreld waar regulasies vereis dat die afstand wat produkte vervoer word, op die verpakking aangebring word. Dit word voedselmyle genoem.
“Hoe langer en verder ‘n produk weg van die verbruiker se tafel geproduseer word, hoe groter is die nood om dit met preserveermiddels langer te laat hou.”

Hy sê dit is insiggewend om te leer hoeveel uitstekende dienste en produkte in ‘n dorp soos Darling gelewer word en daar is veels te veel mense wat dit nie weet nie.
Buy Local Darling/Yzerfontein is gemik op elke diensverskaffer en elke plaaslik vervaardigde produk – ook die tuisondernemings en klein besighede.
Plaaslik geproduseerde produkte sal ook by verkooppunte duidelik so gemerk word met die embleem van die veldtog.
“Koop plaaslike plaas kos op die tafel. Koop plaaslike skep werk in ons gemeenskap.
As jy plaaslik koop, verminder dit misdaadvlakke. Deur plaaslik te koop, hou ons besighede se deure oop.”

Leave a Reply

error: Content is protected !!