Boer volgens normale weersiklusse – klimatoloog
Landbou moet bestuur word om nie die normale natter siklusse as die nuwe normaal te beskou nie.
Só het die bekende klimatoloog en landbouweerkundige Johan van den Berg gesê op die Swartland Wyn-en-Olyfroete se eerste webinaar vir produsente.
Van den Berg het op die webinaar wat aangebied is saam met Santam en die Breedekloof Wynvallei, gesels oor klimaat, klimaatsverandering en risikobestuur.
Hy het gesê ‘n persepsie ontstaan dat dit al hoe droër word en dat boere later nie meer sal kan boer nie. Statistiek wys egter dat die weerpatrone (ook wêreldwyd) in siklusse van ‘n paar natter (bogemiddelde reënval) jare en dan weer ‘n paar droër (ondergemiddelde reënval) jare kom.
Dit is normaal.
Dit lyk of daar ‘n tendens is dat die meer onlangse droogtesiklusse in die suidelike halfrond in die laaste eeu minder intens is as 60 en 100 jaar gelede.
“Reënval in Suid-Afrika is abnormaal en droogte is normaal en mense moet só ‘n kopskuif maak.
“Ons is tans nog in ‘n droë siklus, maar dit lyk of dit begin draai.”
Die probleem, sê hy, is dat wanneer daar natter jare is, mense dikwels daaraan gewoond raak en dit dan as die nuwe normaal beskou en daarvolgens boer voor die droë siklus weer begin, waarop hulle dan nie voorbereid is nie. Dit is belangrik om te kyk hoe jy jou boerdery deur die siklusse gaan bestuur, het hy bygevoeg.
Dit is ook belangrik dat boere hul verwagtinge van produksie daarvolgens sal aanpas, eerder as om deurlopend die produksie van die goeie reënvaljare te verwag, “sodat ons onsself nie doodmaak nie”.
Voorts, sê hy, is dit ook in die era van tegnologie belangrik om die tegnologie te gebruik, maar boere moet besin of dit die moeite werd is om duur daarvoor te betaal en die koste met die voordeel van die aanwending van daardie tegnologie opweeg.
“Daar is baie min boere wat hierdie tipe droogtes volhoubaar kan deurstaan. Ons sal moet kyk hoe ons die risiko gaan bestuur in hierdie droër siklusse.”
Volgens van den Berg was die gemiddelde reënval tot dusver vanjaar meer as wat verwag is.
Daar word nog heelwat reën vir en stormweer in die middel van Julie voorspel en ook heelwat reën vir die eerste helfte van Augustus.
Volgens die voorspelling sal daar vanaf die middel van Augustus minder reën oor die Swartland en Weskus wees en dit sal meer na die Suid- en Oos-Kaap skuif.
Daar is ‘n goeie kans dat ons ‘n La Nina-verskynsel sal hê wat meer somerreëns in die somerreënvalgebied sal bring, maar dat die Suidweste dan in die komende somer warmer en droeër toestande te wagte kan wees.
Die gemiddelde globale afwyking van die aarde se temperatuur oor die laaste 100 jaar dui daarop dat dit van ‘n 0,4 grade koeler as die langtermynnormaal gestyg het na 0,6 grade warmer as die langtermynnormaal. Statistiek wys dat daar oor die langtermyn (duisende tot miljoene jare) ook warm en koue siklusse is en “Ons is nou in ‘n warmer fase.”
Ook die oseane word warmer en dit word die stoorplek vir energie wat weer lei tot sterker laagdrukstelsels en veral siklone en orkane meer na die ewenaar se kant toe. Dit lei ook daartoe dat winters nie so koud is nie.