Wynpryse kan daal; bestuur surplus – Vinpro
Die wêreld en ook Suid-Afrika sit tans met ‘n groot surplus wyn en daar bestaan ‘n moontlikheid dat pryse plaaslik weens die huidige omstandighede met soveel as 30% kan daal.
Só het Rico Basson, besturende direkteur van Vinpro, vandeesweek op die Swartland Wyn- en Olyfroete se eerste webinaar vir produsente gesê.
Volgens hom is onsekerheid die beste woord om die omstandighede op te som en Vinpro is steeds besig met gesprekke met die owerhede oor die verslapping van regulasies.
Die webinaar is in samewerking met Santam en die Breedekloof Wynvallei aangebied.
Basson het oor die SA wynbedryf en die Covid-realiteite gepraat en gesê dit is balangrik om in tye soos hierdie ook vennote te hê om volhoubaar en veerkragtig te bly in moeilike tye.
Hy sê “wat ons in Januarie gedink het oor die bedryf, en waar ons nou is, is twee verskillende wêrelde.
Aan die begin van die jaar het grootmaatpryse van beide rooi- en witwyn die hoogste vlakke in 4 jaar bereik en Basson sê dit was eerder ‘n regstelling van pryse die laaste rjaar van ‘n baie lae vlak in 2016.
Daar is selfs wyn ingevoer wat terugskouend straks ‘n fout was.
“Ons moet nou gefokus bly en die krisis hanteer, maar die wynbedryf het lang siklusse en dit moet oor die lang termyn bestuur word.
“Vir die bedryf om vorentoe te gaan moet ons ernstig besin oor die plaaslike mark en ook toerisme daarmee saam.
“Ons moet voortgaan met ons poging om internasionaal anders te speel.”
Basson sê Swartland en die ou wingerdprojek het baie bygedra om reeds ‘n verskil in dié verband te maak, maar daar is ‘n klomp werk wat nog gedoen moet word.
Besigheidsmodel moet onderoegeneem word en kelders moet anders dink oor die grootte waarop hul boer, kultivarsamestelling en ook hoe vennote betrek word.
Die uitdaging, sedert die einde van 2019 reeds toe die ekonomie stadiger begin rol het, sê Basson, was om verkope te laat groei.
Die Swartland het vanjaar ná die droë jare ‘n baie goeie oes (meer as 20% meer as in 2019) geïn – 118 863 ton teenoor die 98 153 ton in 2019.
Die totale plaaslike industrie se oes het met 102 361 ton toegeneem van 1 247 522 ton tot 1 349 883 ton.
In Januarie was die prentjie dat daar vanjaar in Suid-Afrika ‘n 100 miljoen liter ekstra wyn verkoop moes word sonder vore om die voorraaduitdaging af te weer.
Dié uitdaging het nou gegroei tot ‘n geskatte tussen 200 miljoen en 240 miljoen liter “meer as wat ons sou graag wou hê in hierdie stadium”. Dit is te wyte aan twee maande uit die plaaslike mark weens Covidregulasies (ongeveer 80 miljoen liter) en die uitvoere en die groter oes (ongeveer 60 miljoen liter).
“Die implikasie hiervan is dat dit die goeie pryslopie van die afgelope 4 jaar ongedaan kan maak, tensy dit gestruktureerd hanteer word. Die prys van wyn kan met 30% daal terwyl dit glad nie is wat ons wil hê nie.”
Basson sê dit kan oodaartoe lei “dat ons waarskynlik nie plek sal hê vir die volgende oes nie”. Dit is hoe ernstig die realiteit is.
Hy het ook gewys op die uitwerking van Covid op talle kelders wat heel moontlik nie die vermoë het om aan te gaan nie.
“Dit is steeds moeilik om te handel.”
Die toerisme, het hy bygevoeg, is amper nog meer geraak as die wynbedryf. “Van die totale omset van wyntoerisme kom 32% uit wyn proe en wyn verkoop, 25% uit akkommodasie, 20% uit restaurante en 12% uit konferensies en groot geleenthede.
Hy sê Vinpro druk baie hard vir die verligting van die akkommodasie-regusies veral vir die kleiner rolospelers wat daarvan anfhanklik is.
“Ons baklei ook saam met die restaurantvereniging om wyn te bedien in restaurante, anders maak dit vir baie restaurante net nie sin om oop te maak nie want drankverkope is 40% van die omset.”
Omset is belangrik en profyt ook maar kontantvloei is kardinaal, het hy aan die gaste gesê.
Die manier o mdie situasie te bestuur, is om die krisis eers te stop en dan iets te doen om jou besigheid te stabiliseer. Daarna moet jy ‘n plan maak om terug te keer na ‘n langtermyngroeiplan.
Basson sê aan die positiewe kant van die spektrum is uitvoere aan die gang, dieselpryse laer, rentekoerse laer en die wisselkoers relatief swak.
Hy meen dit is nou belangrik dat die groot rolspelers vir kelders sekerheid gee met kontrakte om hul kontantvloeisekerheid te bevestig vir stabiliteit.
Van die ander aksies waarna gekyk word as moontlik opsies om die situasie te bestuur, is die verlaging in prys met 15%, moontlikheid en impak van grootmaatuitvoertariewe van R5,50/l en R4,50/l, herformulering om wynbasis in vrugtebasisprodukte te sit, moontlike aksynsverligting met distillering en die ligter maak van die volgende oes as daar nie plek is in die kelders nie. Dit sluit ook aksies in teen onwettige spelers en planne om die industriële wyn op ‘n ordelike manier te skuif uit die sisteem teen die einde van September en om die res van die kategoriewyn te beskerm.
Daar is ook ander opsies soos sap en konsentraat. “Dit gaan als ‘n geweldige poging verg om reg te kry.”
Ook in ander lande se wynbedrywe soos Australië en Nieu-Seeland en ander is daar soortgelyke uitdagings.
Hy het ook gewys op die impak van die inperking in Europa op drankverbruik in restaurante wat met 35% afgeneem het in volume en 50% in geldwaarde. Die meeste lande het wel intussen hul restaurante weer oopgemaak.
Ten opsigte van surplus wyn in die wêreld sê Basson daar gaan groot hoeveelhede wyne in Frankryk en Italië en Spanje weggestook word. Dit is tot een en ‘n half keer soveel wyn as die oes van die hele Suid-Afrikaanse bedryf.
Vinpro is ook in gesprekke met die regering oor hul kommer rondom alkoholgebruik “om seker te maak dit is inderdaad ‘n vennootskap en nie net die industrie wat pakslae kry nie”.
Baie van die statistiek wat gebruik word om anti-alkoholsentiment te bevorder, is nie waar nie en sommige is tienvoudig uit, sê Basson.
Basson sê die huidige omstandighede gaan nog ‘n tydjie met ons wees. Ons weet nie hoe volgende week lyk nie, omdat die regulasies kort-kort verander.
Al is die uitvoere reeds oopgestel is daar ‘n groot frustrasie met hawens waar produkte van sommige produsente al tot vier weke lê en nog nie verskeep is nie.
Ook die weersomstandighede belemmer die werksure van die hawens.
Hy het die huidige toestande in die plaaslike wynbedryf met ‘n rugbywedstryd vergelyk wat nou halftyd het. “Ons het omtrent sewe of agt maande na die volgende oes toe en die telbord is skielik 24-0 teen ons. Dit is tyd om nou te dink hoe om saam met mekaar te werk op die pad vorentoe.”
Basson het ook verwys na die tendense van aanlynaankope en tuisverbruik en tuisetediens wat amper oornag ontstaan het. Hy voorspel dat dit nog vir ‘n tyd daar sal wees en ook ‘n geleentheid skep wat deur talle ondernemings as nuwe groeigeleenthied aangegryp is. Hierdie tendens is ook in oorsese lande te sien.
“Hanteer die gevaar van die krisis maar moet nie die geleenthede mis nie. Ons gaan net hierdeur kom as ons bymekaar staan, as ons behoorlike spanpraatjies hou, as die streke saamwerk en dat ons nie nou elkeen sy eie ding doen nie.”
Hy is “baie positief dat hierdie industrie beter, sterker en meer vaartbelyn kan wees as ons hier deur is”.