Roeiers wêreldwyd van môre af op virtuele Berg
Wanneer die Bergrivier Kanomarathon se elfmalige kampioen Hank McGregor môreoggend in die Paarl wegspring op sy tog na Velddrif, sal dit totaal anders wees as al sy ander kere oor dié 240km.
Dié gewilde ultramarathon wat môre vir die 59ste agtereenvolgende jaar sou begin, het in sy tradisionele formaat ook weens Covid 19 in die slag gebly.
Maar die 2020-marathon het nou ‘n totaal ander vorm aangeneem en heet die Ultra Paddle on the Berg.
‘n Rekord-aantal van meer as 400 deelnemers van oor die wêreld het reeds geregistreer om aan dié virtuele wedvaart deel te neem.
Virtueel, omdat roeiers verskeie opsies en kategorieë het om hul kilometers op die Bergrivier of elders te voltooi.
Volgens wedvaartorganiseerder Brandon Macleod is sowat ‘n agtste van die deelnemers van elders in die wêreld – lande soos Kanada, Ierland en Nieu-Seeland. Hulle sal roei op onder andere die Teems in Londen, in die Asturias-provinsie in Spanje, op die Okanagan-meer in Kanada, in Kalifornië, Hong Kong en Australië.
Roeiers kan kies uit drie opsies.
Hulle het van 8 tot 31 Julie om die afstand te voltooi. Sou hulle kies om 50 km of meer af te lê, kwalifiseer hulle vir die bronsafdeling.
In die silwerafdeling moet deelnemers 240km aflê van 8 tot 31 Julie.
Vir goud moet roeiers tussen 8 en 31 Julie op vier agtereenvolgende dae onderskeidelik 52km, 56km, 74km en 58km roei.
Die roete vir die 59ste Berg is vroeër aangepas om die groot afstandverskil tussen die eerste en die tweede dag uit te skakel. Die tydelike roeierdorpie vir die einde van die eerste skof sou by Delsma naby Hermon wees.
Nou sal die 42-jarige McGregor ook op sy eerste skof môre by Delsma eindig. Macleod sê aan dié courant dit is moeilik om te sê hoeveel ander roeiers ook dele van die roete saam met McGregor gaan roei, maar daar is heelparty wat aangedui het hulle sal ook op die rivier wees.
McGregor sal elke oggend om 09:00 sy volgende skof aanpak.
https://www.facebook.com/BergRiverCanoeMarathon/videos/592545738049230
Hy het die marathon ‘n rekord 11 keer gewen tussen 2000 en 2016. Een van sy seges was in 2011 toe ‘n rekord aantal van 317 roeiers die marathon voltooi het.
McGregor se beste tyd was in 2008 toe hy die marathon op ‘n vol rivier in ‘n haastige 13:20:09 gewen het.
Onder die deelnemers wat geregistreer het vir vanjaar se virtuele wedvaart, is Rene Boehm, Mynhardt Marais, Nick Bester, Daan du Toit, Sarah Evans, Paul Lange, Paul Marais, Jean Mortlock, Lood Rabie, Johan Serdyn, Russel Solomon, Jacques Theron, Gert van Deventer, Willem van Riet, Louw van Riet, Ernest van Riet en Bartho Visser.