Toestande vir graan-, veeboere lyk goed
Die Swartland en Weskus is natter as in baie jare en veral ook die noordelike streek het beter reën gehad.
dié courant het met Dirk Lesch en John Dürr oor die huidige graan- en veetoestande gesels.
Lesch boer tussen Malmesbury en die Riebeekvallei en sê hy het tot dusver in Julie 75mm reën gemeet in opvolg op 91mm in Junie.
“Maar daar is ander plekke wat meer gehad het. Ek dink my werf lê maar in ‘n droë kol.
“Die wêreld is nat en daar is al boere wat met vliegtuie begin spuit het.”
Die boere begin swamdoder uit die lug toedien omdat dit te nat is om op die lande te kom.
Hyself gebruik vierwielmotorfietse om te bemes en swamdoder te spuit. Hy sê hy gaan môre begin om die tweede kopbemesting toe te dien.
“Met die aanbreek van saaityd vanjaar het ons dan nog droog geplant. Die 24ste Mei het dit die eerste keer begin reën. En nou is dit nat.”
Maar die toestande lyk goed, sê hy, en al is dit moeilik om te voorspel, lyk die grane tans redelik gemiddeld.
• Dürr is bestuurslid van die Rooivleisprodusente-organisasie (RPO) in die Wes-Kaap en Agri Malmesbury. Hy sê die veebedryf in die Swartland en Weskus stuur op ‘n baie belowende seisoen af wat betref beskikbare weiding tesame met huidige hoë pryse vir lam- en skaapvleis.
Die hoë vleispryse is weens die geweldige tekort aan dié diere tans nie net in die Wes-Kaap nie, maar oor feitlik die hele land.
Hy sê die pryse loop op rekordvlakke vir hierdie tyd van die jaar al is daar weens die effek van die Covid-pandemie nie so ‘n groot vraag vanaf die verbruiker se kant nie.
Die pryse, meen hy, kan egter in die nabye toekoms terugkeer na meer normale vlakke met dalings van tot soveel as 16 % wat dit weer in lyn sal bring met vorige jare.
Dit kan gebeur wanneer die Swartland en Weskus (wat ongeveer 21 % van die Wes-Kaap se lammers produseer) en groot dele van die Suid-Kaap (ongeveer 60 %) teen die middel van Augustus begin om hul nuwe seisoen se diere te bemark.
Hy sê later in die jaar (afhangende ook van die inperkingsmaatreëls) en die somer se buiteleweseisoen, kan die vraag weer styg. Die aanbod sal ook na verwagting styg en pryse laer hou.
Hy voeg by dat ook ander produkte soos vark en hoender ‘n groter rol kan speel as die ekonomie en inkomstes nie verbeter nie.
• Oor die goeie reëns, sê Lesch, “is ‘n mens ook bly vir die boorgate, want die boorgate het maar begin sukkel. Dit was nou jare wat ons nie dié klas reën gehad het nie om ‘n bietjie die ondergrond, die damme voller te maak.
“Hier is kolle wat nie sommer sal afdroog nie. Jy gaan nou begin die kolle in die lande sien waar hy gaan begin geel wys. Koring hou nie van te veel reën nie.
“Maar liewer so as wat dit droog is. Die ou het gesê as dit nat is, gaan net op die nat plekke niks aan nie, maar as dit droog is, gaan daar op die hele plaas niks aan nie.”
“Maar as ons hier te veel reën hier kry, dan kry Moorreesburg en die Rooikaroo en daardie areas genoeg. As ons genoeg kry, kry hulle te min. En as ons te min kry, kry hulle niks.”
• Oor die bemarking van hul lammers , is Dürr se raad aan produsente om slim te bemark en weekliks hul lammers wat markgereed is, weg te laai terwyl pryse nog hoog is. Hul moet waak teen die versoeking om die diere langer op die goeie weiding te hou en dan swaarder diere teen laer pryse aan te bied.
Hy verwys ook na die probleme met veediefstal wat met hoër pryse dit vir herverkopers (informeel en georganiseerd) meer aanloklik maak en weens bekostigbaarheid ook vir die potslagter. Inperkingsmaatreëls maak die beskerming van hul vee ook ‘n groter uitdaging vir produsente. Die belangrikheid van diere-identifikasie het die afgelope tyd ook nog belangriker geword.