Chatsworth-Kalbaskraal-RiverlandsLatest

Deel van DR1111 tydelik gesluit

‘n Gedeelte van die DR1111 (die Ou Malmesburyweg) sal vanaf Maandag 3 Augustus tot Vrydag 4 September gesluit wees vir deurgangsverkeer tussen Kalbaskraal en Hoofweg 217 (Klipheuwel-Philadelphiapad).
Slegs plaaslike inwoners en boere sal toegang tot hul eiendomme hê.

Konstruksie aan dié gedeelte van die pad wat verlede jaar tydelik gestaak is weens ‘n regsaksie, is in Januarie vanjaar hervat en die verwagte voltooiingsdatum is nou in Junie aanstaande jaar.
Die hoof van kommunikasie by die Wes-Kaapse Departement van Vervoer en Openbare Werke, Jandré Bakker, het aan dié courant gesê die DR1111 word gerehabiliteer omdat die pad in ‘n gevaarlike toestand was.
Dit was volgens ou standaarde gebou en sal met hierdie opgradering aan die nuutste ontwerpstandaarde voldoen (Klas 3 en 4 onderskeidelik).

Bakker sê weens die beperkte breedte van die bestaande pad en die nou brûe wat daar is, sal die raps oor die 11 km vir verkeer gesluit word om die rehabilitasieproses veilig te onderneem.
Die koste van die projek beloop ongeveer R 83,5 miljoen.

Hy voeg by daar sal na verwagting met dié projek meer as R17.8 miljoen aan geteikende besighede bestee sal word, met meer as R4.5 miljoen aan plaaslike ondernemings en opkomende kontrakteurs. Die verwagte aantal werksdae wat deur die projek geskep word is 25 000 wat neerkom op ongeveer 110 werksgeleenthede.

Leave a Reply

error: Content is protected !!