Friesperdpionier gesels oor Dag en Nag werk
‘n Ikoon in die perdebedryf en legendariese inwoner van die Swartland Pieter (Dag en Nag) Loubser is vandag 92 jaar oud.
Die Van Imhoff Stoet wat deur hom begin is, bring só hulde: “Ons is baie geseënd, die man wat dit alles begin het, Pieter Loubser, is vandag 92 jaar oud, lekker verjaar yster en mag daar nog vele wees .”
Ons het ‘n paar jaar gelede met die Friesperdkoning gesels.
Jy kan nie help om met verwondering en respek na die gitswart Friesperde op te kyk wanneer hulle voor jou staan nie.
En al is hy in fisieke postuur nie só groot nie, kry jy dieselfde gewaarwording as jy bietjie tyd spandeer saam met perde-pionier Pieter (Dag en Nag) Loubser.
Loubser, wat dekades gelede ‘n suksesvolle vervoermaatskappy van nuuts af opgebou het, het saam met sy spogperde menige keer koppe laat draai soos hulle kampioenskappe een na die ander ingeryg het.
Hy is in 1928 op die plaas Soetendal op Wellington gebore.
“Dit was harde jare,” vertel hy. “Daar was nie tyd vir skool gaan nie.”
Hy het baie ondervinding van werk. “Harde werk.”
Loubser moes as 11-jarige seun elke oggend om 04:00 opstaan om sy pa Jan met die melkery in Kuilsrivier by te staan.
Vir werk het dié oupa van 15 kleinkinders en binnekort 18 agterkleinkinders, nooit geskrik nie.
Hy is kort ná sy 21ste verjaarsdag na Harold van der Riet se vervoeronderneming op Malmesbury waar hy sand vervoer het en met sy hande moes werk.
Later het hy die begin om saam met die volle dag se werk ook as nagskofryer by Eddie Pienaar se melkvervoerbesigheid vragmotor te bestuur.
Vandaar die Dag-en-Nag-naam wat ook nou aan die nasate oorgedra is. Loubser vertel die lang ure, wat soms met slegs een uur se slaap beloon is, het vir hom vrugte afgewerp.
Met dié bykomende inkomste kon hy sy eie tweedehandse vragmotor aankoop en só het die vervoeronderneming beslag gekry. Dit het gegroei tot ‘n suksesvolle saak met ‘n vloot van tot 30 vragmotors waarmee hoofsaaklik bousand, klip, bakstene en sement vervoer is.
“Dit was harde tye. Van die agt sjielings wat ek verdien het, is vier sjielings aan ‘n handlanger betaal net om hom te hou,” voeg hy by.
Die boumateriaal wat gebruik is om in 1956 die destydse enkelbaanbrug in Voortrekkerweg, Malmesbury na ‘n dubbelbaan te vergroot, is deur die einste Loubser verskaf. Twee van sy seuns, Jan (JAR Transport) en Johan (Loubser Transport), bedryf vandag elk hul eie vervoermaatskappy.
Loubser vertel sy pad met perde strek baie verder terug. Hy het as kind ‘n melkwa gedryf wat deur perde getrek is. Hy het later op 34 sy eerste perde gekoop.
Nog voordat die Fries inslag in Suid-Afrika gevind het, was die swart Vlaamperde hier bekend. Hy het vroeg in die 60’s met die swart perde begin skou om ondervinding op te doen.
Hier het die skougogga hom behoorlik gebyt. Dié pionier sê hy het “alles wat jy moet weet van skou, by die beste mentors geleer. “Die perdemeesters,” soos hy hulle noem, “was mense soos die legendariese Ben Mostert van Moorreesburg, die Smit Broers, en Jan Eksteen.”
Dit is Lambert Smith van die Agter-Paarl vir wie hy die grootste bewondering gehad het. “Ek het in 1974 my eerste hingste van Ben Mostert gekoop om te begin teel.”
Sy eerste hings wat uit Friesland ingevoer is, was Riemer. Dié perd en sy seun, KW, het die SA Kampioenskappe vanaf 1982 tot 1988 ingepalm.
Baie mense het ‘n stokperdjie. Loubser se swart perde is sy passie. Hy wil nie een perd uitsonder nie. “Almal is my hart se punte,” terwyl hy met ontsag opkyk na die pragperd LJ, wat saam met kleinseun Pieter se Theunis verlede jaar die dubbeltuigkampioenskap by die Tulbagh Skou gewen het.
Pieter jr was agter die leisels. Hoewel hy vandag sowat 22 Friesperde op die plaas The Grange buite Malmesbury versorg, het Loubser op ‘n tyd sowat 60 gehad.
Hy het elke oggend om 03:30 opgestaan om sy perde te versorg en te gaan ry. Daarna het hy aandag aan die vragmotors gegee, net om weer 15:00 terug by sy perde te wees. “Dit was my oefentyd,” voeg hy by.”
Vandag kom hy steeds elke dag vanuit Bloubergstrand om vir sy perde te kom kuier. “Ek kan nie meer ry nie en doen nie veel nie, maar maak seker dat alles reg verloop.”
Sy ‘groom’ Barend Croy loop al vir jare ‘n pad saam met hom en Loubser beskryf hom as sy staatmaker.
Só ook Jan Croy, Gewillig Klaasen en James van Schalkwyk wat die perde help versorg. Loubser het nie net sy Van Imhoff Friesperdestoet tot goue status gebring wat landwyd gerespekteer word nie, maar is veral bekend vir sy kampioene in die tuigklasse. Een van sy rekords is die 36 jaar wat hy agtereenvolgens die SA Dubbeltuigkampioenskap op Tulbagh-skou ingepalm het. Daar was ook ‘n lang rits seges in die enkeltuig en die vierspan-afdelings.
Hoewel hy self nie meer skou nie, is hy nie te bekommerd dat die Van Imhoff-naam sy glorie binne Friesperdkringe sal verloor nie. In die bekwame hande van sy seun Johan en kleinseun Pieter, bygestaan deur Croy en die res van die span, het hul reeds begin om kampioenskappe in te ryg. Van Loubser se agterkleinkinders het ook al begin skou op dié groot perde.
“Hulle moet van jonks af begin,” sê dié stigterslid van Suid-Afrika se friesperdetelersgenootskap. Met sy uittrede as raadslid het hy vir sy jarelange baanbrekerswerk ‘n oorkonde ontvang as lewenslange ere-president.
In sy tyd het die genootskap groot hoogtes bereik en Loubser is baie positief oor dié ras waarvan daar na raming so 1300 perde (uitsluitende vulletjies) reg oor die land is. Die passie vir die perde is duidelik sigbaar ook in die bewoëndheid as hy foto’s wys van sy kampioene van weleer.
Hy groet: “Die Here het my pad vir my uitgelê, nie ek nie. God het die passer van my lewe gedraai. Ek kon dit nie sonder hom doen. Niemand kan nie.”
*Sedert hierdie onderhoud het kleinseun Pieter Loubser die dubbeltuigrekord-tradisie op die Tulbagh-skou voortgesit. Dié skou vind vanjaar op 11 en 12 Desember plaas.