Stalletjies vir kykNET Buite-ekspo 2021 raak vol
Die span van Trio Events is kliphard aan die beplan aan die 2021 kykNET Buite-ekspo wat weer van 12 tot 14 Februarie op Môreson beplan word.
Dit sal die Ekspo se Nommer 20 wees, nadat die een by Sondela nie vanjaar kon plaasvind nie weens Covid-19.
Volgens organiseerder Marius Opperman is daar reeds bykans 80% van die stalletjies vir dié gewilde jaarlikse geleentheid in die Swartland bespreek.
Ook van die groot borge soos KaapAgri en Hankook is reeds bevestig en die optredes van kunstenaars is in ‘n finale fase van beplanning.
Buiteluggeestriftiges kan weer uitsien na ‘n vol program wat weer 4×4-ritte met van Andre 4×4 en die gewilde kykNET program Safari 4×4 Roetes asook Suzuki Jimny-ritte insluit.
Die ekspo het in Februarie vanjaar sy 10de bestaansjaar gevier.
Gepols oor die Covid-regulasies sê Opperman hy is vol vertroue dat die ekspo sal voortgaan, maar afhangende van maatreëls sal dit hoogstens uitgestel word na ‘n datum so na as moontlik aan die oorspronklike datum. Covid-19 protokols sal baie streng toegepas word.
Belangstellendes wat nog stalletjies wil bespreek, kan dit doen by Tersia by accounts@ekspo.co.za of skakel haar by 071 659 9915.
Vir media, bemarking en borge, skakel Marius by 082 570 5758 of e-pos by marius@ekspo.co.za