‘Geesteswoorde het my tot hier gebring’
Mensmin is baie
Ek het nie baie nie,
het ek vandag weer besef,
maar ek kan woorde vir jou omdop
sodat jy saam met my op water kan loop
dit in my eenvoud raam,
terwyl my oë halflyf
deur jou siel sink
my vingers oor jou kortrib streel
verby die sagkant van jou sixpack
tot jy snak-snak-snak en
my mensbekende tale
jou vreemd laat voel,
want met die bietjie wat ek het
weet ek hoe baie jy vir my is.
Sy het “haar hele lewe lank gedig en goedjies geskryf”, maar eers veel later toe die lewe ‘n paar draaie gemaak het, weer ernstig begin dig “vir ‘n uitlaatklep”.
Só gesels digter Caren Kearley wat al ‘n paar keer haar werk by die Rata (Royal Arts Town Amphitheatre) op Riebeek-Kasteel se poësieoggende voorgedra het. Sy is pas in ‘n landwye kompetisie as Digter van die Jaar aangewys.
‘n Kind van Namibia is Kearley deesdae ‘n Swartlander en woon op Riebeek-Wes.
Sy het Saterdagaand in Pretoria by die jaarlikse gala-aand van Ink (Skryf in Afrikaans) met drie pryse weggestap.
Naas die toekenning van Digter van die Jaar, het sy ook eerste gekom in die rondeel-afdeling van Ink se 2020-kompetisie met haar gedig Nagspoor en in Ink se Goud-afdeling die Gedig van die Jaar-trofee in gepalm met Metamorfloos.
“My ouma het altyd geskryf, maar sy het niks daarmee gedoen nie – Woutrina Jacoba Coetzee. Sy het op Maltahöhe gewoon en ek het as kind baie daar gaan kuier vir lang tye. Sy het altyd die versies vir my gelees.”
‘n Vriendin het Kearley aangemoedig om lid te word van die facebookbladsye waar mense gedigte deel.
Sy het in 2016 by die webblad INK (Skryf in Afrikaans) aangesluit en haar digkuns verder begin slyp en met gereelde suksesse van die brons-vlak nou reeds tot goud gevorder.
“Ek het baie geskryf, maar jy hou dit mos maar vir jouself.
“Jy weet daardie eerste ding wat jy skryf om daarbuite te plaas, is nogal ‘n ding.”
Van die eerste goedjies wat sy begin plaas het, het al pryse gewen o.a. vir Digter van die Week.
“Ek kon nie verstaan hoekom die mense so aangaan nie, maar hoe meer hulle aangaan, hoe meer skryf ek.”
Ink het die top-inskrywings in die 2020-kompetisie nou in ‘n digbundel, Inkspraak 1, gepubliseer. Daar is agt van Kearley se gedigte in die bundel opgeneem.
Die kompetisie het uit 8 afdelings bestaan – ballade, elegie, fabel, haikoe, kwatryn, rondeel, sonnet en vry vorm en rym.
Kearley sê sy het gedigte vir al die afdelings ingeskryf.
“Ek is mal daaroor om haikoe’s te skryf.”
Sy vertel sy boks ook al ‘n paar jaar by ‘n gimnasium in die Paarl. Sy was in La Rochelle in die Paarl op skool waar sy ook hoofmeisie van die koshuis was.
Deesdae is dié ma van twee dogters, Lucca (matriek) en Caitlyn (9), ‘n eiendomsagent.
Sy sê albei kinders is ook kreatief. “Lucca skryf baie goed en Caitlyn skryf nie juis nie, maar sy is lief vir beeldende kunste.”
“Ek het net nie gedink dié digkuns is ‘n talent nie. Dit is hoekom ek niks daarmee gedoen het nie. Ek het gedag: Wie kan dan nou nie ‘n gedig skryf nie?
“Die mense sê vir my my gedigte raak hulle aan en hulle kan sien dit kom uit lewenservaring en hulle kan dit toepas op hulle lewe ook.”
Wanneer skryf sy: “Jy kan dit nie keer nie – party keer ry jy êrens, dan moet jy maar aftrek en jou notas maak. Dis goed wat na jou toe kom.
“Geesteswoorde het my tot hier gebring.
“Soms is dit net ‘n sin. Maar dan voel jy jy moet dit neerskryf. En as jy jou weer kom kry, is dit ‘n gedig wat ‘n naam kry. Soek ‘n prentjie en daar gaat hy.”
“Dit moet maar stil wees. Ek het ook al geleer as jy die belangrikste goed nouskryf, kan jy dit later deurdink en dan werk daaraan.
“Ek raak soms in die middel van die nag wakker. Dan skryf ek. Maar daar is tye wat dit weg is ook.”
Sy sê sy is nie so goed “met donker gedigte nie. Ek is meer iemand wat daarvan hou om te skryf om ander mense te inspireer.
“Dat hulle nie ook net voel hulle sit in ‘n donker gat nie.
“Klim jou berg, al moet jy hom opkruip. Kom net bo. Wie weet? Dalk as jy bo kom, kan jy vlieg.”
Oor letterkundiges wat ‘n invloed op haar werk het, sê Kearley sy dink nie die styl in haar werk is soortgelyk aan die styl van Ingrid Jonker nie, maar sy is wel baie “gefassineerd deur Jonker se lewe en wat sy alles bereik het. “Sy het ook maar baie swaar gekry en moeilike omstandighede gehad. Maar sy het ‘n nalatenskap vir die nasie gelos, waaronder die Ingrid Jonker-prys. Die boodskap wat sy los, is oor die mooi in haar lewe.
“Breyten se werk is ook vir my baie ‘nice’. Dit is gekompliseerd. Baie mense verstaan dit nie, maar omdat my kop dink in metafore en ek gebruik baie metafore en beeldspraak, dink ek ek verstaan nogal baie van sy goed.
“As skrywer moet jy jou kuns op ‘n manier uitbeeld dat jy gemaklik is daarmee dat elke ou dit gaan lees met sy eie interpretasie. En ek is. Ek skryf juis op so ‘n dubbelsinnge manier dat niemand kan sê of lees dat dit oor my gaan of sê ek is nou daardeur nie. Nee, elke vrou in hierdie land gaan daardeur.”
Kearley het ook ‘n facebookgroep, Nimfoleptiese woorde https://www.facebook.com/groups/460739004135259/ begin.
Daar leef sy haar liefde vir dig uit en deel dit met meer as 600 lede.
Haar gedigte het reeds in verskeie gesamentlike bundels asook op Litnet verskyn.
“Kreativ SA bring ook nou ‘n bundel uit waarin van my gedigte is.”
En ‘n eie bundel?
Ja, sy is op die punt om ná ‘n ontmoeting en raad deur die bekende Petrovna Metelerkamp, haar manuskrip vir goedkeuring na ‘n uitgewer te stuur. Dan hou ons maar duim vas.