Swart Swartland se top-fotograaf in 2020
Die Swartland Fotografieklub het vandeesweek vir Pieter Swart van Malmesbury aangewys as Fotograaf van die Jaar. Die Foto van die Jaar, Come Closer, is, soos in 2019, deur Herman Olivier van Malmesbury geneem.

Olivier is ook die klub se Senior Fotograaf van die jaar vir 2020 terwyl Soreen Gouws van Piketberg aangewys is as Junior Fotograaf van die Jaar.

Voorsitter Adriaan Vlok verduidelik dat daar verskillende kriteria geld vir die Fotograaf van die Jaar (salonaanvaardings dra hier ekstra gewig) en die kompetisie vir Senior en Junior Fotograaf van die Jaar.
Op die jaarvergadering is daar ook ‘n nuwe bestuur verkies.

Belinda Ruhl is die nuwe voorsitter met Swart wat aanbly as tesourier en Gouws is die nuwe sekretaris. Daar is ook addisionele lede: Hersia de Jager, Adriaan Vlok, Herman Olivier en Peter Hardcastle.
In die Desember-kompetisie het Olivier die senior afdeling gewen met sy foto Golden morning. Dit was ook die aandwenner.

Desember se tema was patrone en Johan du Toit van Piketberg het die wenner, Post Modern Rustic, in dié kategorie ingeskryf. Dit was ook die junior wenner van die aand.

Peter Hardcastle van Malmesbury se Karoo Tranquility het die louere ingeoes in die selfoonafdeling.

Die Swartland Fotografieklub vergader maandeliks op Malmesbury en daar word ook weer fotowerkswinkels en uitstappies vir 2021 beplan.

Belangstellendes kan die voorsitter kontak by 066 237 5107.
Sluit gerus aan by die facebookgroep of besoek die webwerf by https://swartlandfotoklub.co.za