Agri/BusinessEntertainment

Ou ‘Miss Girlie’ open as koffiewinkel, onthaallokaal

Op die hoek, oorkant die treinspoor, daar waar die Koringberg-grondpad (straks tóé al bekend as die rooipad) by die destydse Malmesbury/Hopefield-weg aangesluit het, daar het Miss Girlie se winkel gesit.
Vandag, dekades later en diep in die 2020 Covid-jaar, pryk op dié perseel op Koperfontein ‘n splinternuut gerestoureerde woning en het ‘n koffiewinkel en klein onthaalplek pas hulle deure geopen.

Die Copper Kettle staan gereed om jou te bedien met gasvryheid, ‘n heerlike Weskuskoffie en koek en kan ook klein groepe (onder normale omstandighede tot 60 mense) akkommodeer vir geleenthede en ‘n unieke ervaring.
Cara McDowell het jare se ondervinding in die gasvryheidsbedryf, onder meer as bestuurder vir die Aleit-groep se Bakenhof-onthaallokaal en ook voorheen by die luukse Orange Grove by Robertson.
Hannes en Elouise Steyn het dié perseel, toe ‘n vervalle stoorplek, 3 jaar gelede gesien en dit het onmiddellik hul harte gesteel.
Beide groot kampvegters vir die bewaring en restourasie van erfenisgeboue is Elouise ‘n argitek en Hannes (‘n ortotis en prostetikus) het onlangs ook ‘n kwalifikasie in argitektuur verwerf.

Nadat hulle weens onsekerheid die gebou byna weer verkoop het, het dinge vroeër vanjaar met die koms van Covid-19 anders gedraai en toe McDowell, ‘n jarelange vriendin, haar werk in die gasvryheidsbedryf tydelik verloor, het hulle besluit om in te spring en die gebou op te knap en nuwe lewe te gee.
Die Steyns het reeds voorheen restourasieprojekte aangepak en vir werk staan hul hande nie verkeerd nie.
Miss Girlie se winkel was destyds die tipiese algemene handelaar met ‘n wye verskeidenheid produkte en ‘n bekende baken op Koperfontein, ‘n siding wat grotendeels vir die oplaai van graan gebruik is.
Die winkel, ‘n gewilde bymekaarkomplek, is só genoem na die eienares wat as Girlie bekend gestaan het.
Die nuwe pad is later jare gebou om aan die noordekant verby Koperfontein te loop.
Die dorpie het sedertdien al stiller geraak.

Waar Koos se Meulhuis was (langs die nuwe Copper Kettle) is daar is deesdae ‘n gastehuis wat as Miss Girly bekend staan.
Die restourasie-werk vir Copper Kettle het in alle erns op 6 Junie begin en met al die nodige permitte is daar sedertdien kliphard gewerk.
Ses weke later het McDowell en haar man, John (‘n Ier van afkoms), ingetrek in die woongedeelte.
Getrou aan hul liefde vir erfenisgebou, is die opknappingswerk só gedoen om die karakter van die ou gebou onder die pleisterwerk te ontbloot en by die binneontwerrp in te sluit.
Ook die blaaie van ou houtwerksbanke (wat moontlik vir opleiding gebruik is) maak deel van die dekor van die Copper Kettle uit.
Nou, ses maande later, is die Copper Kettle in die ou waenhuis en wynkelder ingerig en spog met ‘n splinternuwe kontemporêr-industriële voorkoms – uniek vir die streek.

Naas die onthaallokaal, is daar ook ‘n kapel-vertrek vir ‘n huwelikseremonie en ‘n klein tuin waar gaste kan kuier voor ‘n onthaal.
Hulle het ook reeds vir ‘n dranklisensie aansoek gedoen.
McDowell, ‘n boorling van Wellington, gesels ook ‘n heerlike koppie koffie. Sy sien uit daarna om onthale aan te bied. “Want dit is waar my ervaring lê.”
Oorkant die pad is die treinspoor en daar loop nog een of twee treine op ‘n dag verby, vertel sy.
Sy het ook ‘n eie skoonheidsreeks, Uschi, wat sy uit plaaslike produkte vervaardig. Daarby het John ‘n reeks handgemaakte 100% natuurlike baardversorgingsprodukte (The Grizzly Beard Co) wat hier beskikbaar is. Hulle gebruik goeie maroela-olie as ‘n basis.
Die Steyns en die McDowells is opgewonde en daar is groot drome om met nog projekte nuwe lewe na Koperfontein te bring.

Leave a Reply

error: Content is protected !!