Beukes buit wenprys met sy bokwa
In die jaarlikse Yzerfontein Snoek Classic het Kobus Beukes Saterdag met die wenprys weggestap nadat hy die swaarste snoek van die boot Wild Child gevang het.
Dié bokwa het die skaal op skraps duskant die 6kg (5,965kg) getrek en aan Beukes die wentjek van R5000 besorg.
Beukes se boot Wild Child was ook die top-boot met die hoogste gemiddelde snoekgewig (5.783kg).
In die afdeling vir vrouedeelnemers het Erika Kruger die wensnoek (5,450kg) gevang van die boot Happiness.
Die swaarste vis deur ‘n junior hengelaar was dié van Teyana Theart wat sy van die boot Tekyda gevang het. Dit het die skaal op 5,305kg getrek.
Organiseerder Theunis Kruger het al die deelnemers wat “in ‘n moeilike jaar” ingeskryf het, bedank vir hul deelname. Hy het ook die borge wat ten spyte van die ekonomiese omstandighede bygedra het, bedank vir hul volgehoue ondersteuning.
Daar het vanjaar 24 bote aan die kompetisie deelgeneem.