Solo Studios haal besoekerdoelwit in moeilike jaar
Die moeilike pandemiejaar ten spyt, het Solo Studios wat verlede naweek in die Riebeekvallei gehou is, hul doelwit ten opsigte van besoekergetalle bereik.
Met ‘n groot uiteenlopende aanbieding van beeldende en uitvoerende kuns, het besoekers en kunskenners aan Solo Studios 2020 die werke geprys as van die beste beskikbaar.
Organiseerder Klaus Piprek het die Saterdag reeds bevestig dat vanjaar se aangepaste doelwit in terme van besoekertal bereik is.
Die naweek moes vanjaar noodgedwonge weens die pandemie van Augustus na Desember verskuif word.
Met 18 kunstenaars se ateljees, 11 groepuitstallings, wynaanbiedings, musiek, teater en kosparings het die kunste – ook dié van kos en wyn – weer hoogty gevier.
Een van die unieke komponente van vanjaar se Solo Studios was die “straatkuns” van die bekende Falko One wat ‘n ou vervalle gebou in Riebeek-Wes met unieke spuitverfkuns in ‘n belewenis omskep het.
Getiteld After-Life was dit ook die internasionaal bekende kunstenaar se eerste amptelike solo-uitstalling.
Piprek het almal wat aan Solo Studios 2020 deelgeneem het bedank vir hul samewerking “en die moed onder redelik surrealistiese omstandighede.”
Hy het bygevoeg dat met die besluit om Solo Studios steeds aan te bied in die moelike jaar, hul die momentum wat oor die vorige vier jaar opgebou is, kon behou.
“Ons is reeds besig om te kyk na die pad vorentoe.”