So lyk plan vir private Malmesbury Hospitaal
Planne vir die Samaritan Malmesbury Hospitaal is op dreef en is pas aangepas om ‘n ekstra teater in te sluit.
Só vertel Kit Wostenholm, bedryfshoof van die Samaritan-groep, aan dié courant.
Dié hospitaal sal deel uitmaak van die nuwe R700m De Zwartland Werf-ontwikkeling aan die noordekant van die dorp.

Jean-Pierre Nortier van Devmark wat dié ontwikkeling met streekwinkelsentrum en kantoorruimte op die grond noord van die Malmesbury skougronde wil bou, het in November verlede jaar aan dié courant gesê hulle beplan om eersdaags met die grondwerke vir die ontwikkeling te begin.
Die nuwe hospitaalplanne, sê Wostenholm, is nou aan die departement van gesondheid voorgelê en die finale planne moet ook nog deur die Swartland Munisipaliteit goedgekeur word.
Samaritan is ‘n gesamentlike inisiatief tussen Carican Finansiële Dienste, Pivotal en Palesa Capital. Die groep ontwerp en bestuur hospitale, dagklinieke, herstelfasiliteite asook geriewe vir verswakte sorg en demensie.

Gevra oor die tydslyn en wanneer daar met bouwerk begin en wanneer die hospitaal voltooi sal wees, verduidelik Wostenholm dat weens die aard van die terrein en die helling daarvan die grondwerke spesialiskompakteringstegnieke sal insluit. Hierdie werk sal eers op die hele perseel afgehandel word, alvorens met konstruksie/bouwerk begin word. Dit is daarom moeilik om presies te sê, aldus Wostenholm. “As dit in my hande was, kon ek makliker ‘n tydslyn gee.”


Die nuwe planne vir die Samaritan Malmesbury Hospitaal behels 5 teaters en 88 beddens asook verskeie dokterskamers. Die hospitaal sal bykans 7000m² beslaan. Dit sluit ‘n intensiewe sorgeenheid, neonatale intensiewe sorgeenheid, hoësorgeenheid, neonatale hoësorgeenheid, kraameenheid, pediatriese eenheid, algemene saal, dagsaal asook dialise-eenheid in.

As vergelyking: die private hospitaal op Vredenburg wat deur 1Life bedryf word, het 61 beddens.
Die herboude Swartland Provinsiale Hospitaal het 89 beddens.

In die oorweging om die private streekhospitaal te bou, is daar gekyk na Malmesbury as die streek se hoofdorp. Die hoë ontwikkelingspotensiaal van dié dorp word toegeskryf aan faktore soos die toeganklikheid daarvan langs die nasionale N7-roete, die nabyheid aan Kaapstad, gediversifiseerde ekonomiese basis, wat nie net die landbou akkommodeer nie, maar ook goed ontwikkelde nywerheids- en kommersiële sektore en ondersteunende infrastruktuur insluit.
Ook die hoër eiendomswaardes in die Kaapse Metropool en die aantrekkingskrag van ‘n rustige landelike atmosfeer laat mense hulle hier vestig en daagliks na Kaapstad pendel.