Bekroonde kunstenaars tree op by Rata
Die Royal Arts Town-amfiteater (Rata) bied nog twee produksies aan as deel van hul eerste somerseisoen.
Sommige van die produksies is na die volgende seisoen later vanjaar verskuif.
Die twee produksies wat wel nog sal plaasvind, is How to Build a House in the Mountains van Roger Lucey en The Shadow of Brel deur Godfrey Johnson.
Lucey bring sy produksie die naweek van Vrydag 12 en Saterdag 13 Februarie op die planke.
How to Build a House in the Mountains is die verhaal van veertig jaar in ‘n Suid-Afrikaanse troebadoer se lewe, ‘n wilde en dikwels gevaarlike tuimeltreinrit wat uiteindelik ‘n rusplek gevind het.
Akteur Graham Weir, wat onlangs oorlede is, het dit só opgesom: “There are only a few troubadours and writers in each generation, those souls who record and document an era, who say on behalf of us all: We lived. We loved. We experienced pain. We were brave. We did extraordinary things. Roger is the epitome of the spirit of the new South Africa. How to Build a House in the Mountains is uplifting, poetic and inspiring. And not to be missed.”
In Maart is Rata die gasheer vir The Shadow of Brel deur die bekroonde musikant, komponis, akteur, regisseur en sanger Godfrey Johnson.
Dié solovertoning is van die meester se grootste werke – van die klassieke tot enkele van die minder bekende liedjies.
Dié produksie wat genomineer is vir ‘n Fleur du Cap-toekenning, bevat ook van Johnson se eie musiek en liedjies.
Brel was ‘n legende; ‘n komponis en sanger van talent en charisma wat sy gehore in ‘n wêreld van pyn en vreugde vervoer het. Hy kon meesterlik die volheid van die lewe vasvang, hetsy sag of woes.
Pieter-Dirk Uys sê oor Johnson: ”Hy sing, hy skryf, hy speel, hy komponeer, hy lag, en hy weet! Godfrey en ek werk al meer as twintig jaar saam en elke ervaring is ‘n vreugde en ‘n avontuur op nuwe horisonne.”
The Shadow of Brel is die naweek van 5 en 6 Maart by Rata op die program.
Moenie hierdie twee buitengewone kunstenaars by dié besondere amfiteater misloop nie. Sosiale afstand en alle ander Covid-regulasies word streng nagekom en daar moet te alle tye maskers gedra word tydens die opvoerings.
Besprekings vir beide produksies is reeds oop.
Bespreek aanlyn by www.artstown.co.za of skakel 082 851 1262 met navrae.
*Hierdie berig is bygewerk.