Eet, koek en tee bo binne-in dié akkerboom
Promosie
Johan Viljoen
Die Swartland het ‘n skatkis van bekende en ook onbesonge juwele.
Mense en instansies wat op hul stil manier ‘n groot impak maak en woeker.
Een so ‘n wonderlike plek is Goedgedacht aan die voet van Kasteelberg.
Naas die enorme werk wat Goedgedacht en die Goedgedacht Trust reeds oor dekades in verskeie van die dorpe in die streek doen, bied die plaas ‘n eenstopstasie vir konferensies en troues of ander geleenthede.
Een van die nuutste toevoegings tot Goedgedacht se spyskaart is ‘n baie unieke teehuis.
dié courant het gaan inloer.
“Dit het gevoel of ek tee drink in die tuin van die feetjies.” Som een van die jonger gaste dit op.
“Nie in my wildste drome het ek so iets op ons voorstoep verwag nie.”
Die plaaspad lei jou na die ou opstal en ontvangs – ook die konferensiefasiliteite en ‘n verskeidenheid akkommodasieopsies.
“Dit is ‘n wonderlike plek en alles is net hier.”
Só beskryf die ouerpaar van ‘n Swartlandse bruid wat onlangs hier getroud is.
Hulle het net lof vir Goedgedacht. “Alles was perfek en jy hoef nêrens te ry nie.”
Terug by die teehuis.
As kinders moes ons altyd boomklim om in ‘n boomhuis te speel, maar hier hoog bo binne-in ‘n ou ou akkerboom is daar sommer ‘n boomhuiskombuis en ‘n groot dek met tafels en stoele met ‘n praguitsig. Jy stap reguit met ‘n bruggie tot op die dek van die Teahouse in a Tree.
Dit kan (buite Covid-tyd) tot 40 mense akkommodeer met ‘n heerlike ligte spyskaart – als vars gemaak net daar bo in die boomhuiskombuis.
Ons word gasvry ontvang deur Lint-Lee Adams en sjef Chesnay Poedel.
‘n Heerlike koppie tee (wat dan anders?) of jou koffiekeuse of ‘n chai latte of ‘n sjokoladedrankie.
Hier kan jy weg raak. In stilte weg van die gejaag. ‘n Baie unieke stukkie Swartland beleef.
Die ontbytspyskaart sluit opsies in vir ‘n vol ontbyt, omelet of croissant. Ook smoothies.
Vir teetyd is daar onder ander quiche-, koek- en tertopsies, botterbroodjies of koeksisters.
Die ligte middagetes sluit opsies soos ‘n BLT (oop spek-en-tamatie-broodjie – tuisgebak met avokadopeer) of ‘n biefburger, calamari, vegetariese taco en slaai in.
Ons BLT-broodjie was heerlik.
Daar is ook ‘n paar disse vir die jongspan.
Adams vertel hulle is oop weeksdae van 08:00 tot 17:00 en Saterdae en Sondae van 08:00 tot 15:00.
teahouse@goedgedacht.org
Tel: 022 482 4369
*Tydens ons besoek kom gesels die besturende direkteur van Goedgedacht, dr. Deon Snyman, ‘n bietjie.
Hy vertel van die aktiwiteite op die plaas en by hul POP-sentrums. Ook die fabriek op die plaas waar hulle onder andere olyfolie en slaaisouse bottel.
Snyman sê Covid het hulle ook swaar getref en hul inkomstebronne geknou. Hul moes mense aflê.
Goedgedacht was verlede jaar in een stadium ‘n Covid-kwarantynsentrum.
Hy sê hulle is tans ook besig om pakette saam te stel vir familielede wat geliefdes weens Covid verloor het. Om tyd in die veilige natuurskoon te kom spandeer en sessies om die verlies te help verwerk.