Agri/BusinessLatest

Parstyd: effe groter oes verwag

Parstyd is goed op dreef en hoewel produsente en wingerdboukundiges positief is oor die gehalte van die 2021-oes ná gunstige weersomstandighede, bly kelderkapasiteit en finansiële lewensvatbaarheid ‘n groot bron van kommer vir die bedryf vanweë die impak van Covid-maatreëls.
Só sê Vinpro en Sawis (Suid-Afrikaanse Wynbedryf Inligting en -Stelsels) in ‘n verklaring.
Volgens die jongste skatting deur SAWIS en Vinpro word verwag dat die wyndruifoes in hierdie stadium ietwat groter sal wees as in 2020, maar steeds kleiner as die 15 jaar gemiddeld van 1.37 miljoen ton. Die skatting in Januarie was die tweede van vyf jaarlikse beramings voordat die finale oesverslag in Mei vanjaar bekend gemaak sal word.

“Soortgelyke of ietwat groter opbrengste word in die meeste gebiede verwag danksy matige temperature en voldoende waterbronne wat tot goeie wingerdgroei aanleiding gegee het,” sê Conrad Schutte, bestuurder van Vinpro se konsultasiediensafdeling. Daar word verwag dat rypskade langs die Oranjerivier en koue en reënerige toestande aan die Kaapse Suidkus gedurende die blom- en setperiode die opbrengs in hierdie gebiede sal beïnvloed.


Die koue weersomstandighede wat die meeste gebiede teen die einde van die winter ervaar het, was voldoende om aan wingerde se kouebehoeftes te voldoen en bogemiddelde reënval en sneeu het riviere, strome, besproeiingsdamme en grondwatervlakke goed aangevul. Nadat wingerde laat, maar mooi gelyk uitgebot het, het koeler temperature en ʼn bogemiddelde reënval in die lente voortgeduur, wat verder bygedra het tot ‘n effens later, maar goeie blom en set. Wingerdboukundiges was veral in hierdie stadium tevrede met die hoeveelheid en groottes van druiwetrosse.

“Deurslaan was ook laat en stadig weens matige temperature sedert die begin van die somer, en ons het minder skielike temperatuurstygings gesien as gewoonlik wat sonbrandskade beperk en help om die geure te behou. Produsente moet egter op die uitkyk wees vir donsskimmel en witroes en dit proaktief bestuur,” sê Schutte.

Conrad Schutte


Parstyd het ongeveer twee weke later as gewoonlik begin wat tot die bedryf se voordeel óf nadeel kan wees. “Aan die een kant kan dit tyd wen vir kelders om verwerkings- en bergingsruimte oop te maak as die alkoholverbod in die volgende paar weke opgehef word. Aan die ander kant word warmer weer vanaf middel Februarie tot die laaste week van Maart voorspel wat rypwording kan bespoedig en bottelnekke kan veroorsaak namate sommige kultivars kan inhaal en die oes gelyktydig ryp word.”

Moeilike besluite
Produsente sal moeilike besluite moet neem in die wingerde aangesien kelderkapasiteit onder ernstige druk is weens die impak van die alkoholverbod sê Rico Basson, Vinpro-bestuurshoof.
Die 19 week lange verbod op plaaslike drankverkope sedert Maart 2020 het ʼn negatiewe effek op wynkelders se verkoopsvolumes gehad en tot hoër voorraadvlakke gelei.

Ná die afskop van parstyd het die bedryf na raming meer as 640 miljoen liter wyn in voorraad waarvan 250 – 300 miljoen liter ongekontrakteer is. “Dit hou ʼn wesenlike risiko in weens onvoldoende stoor- en verwerkingskapasiteit vir die nuwe oes en ʼn bedreiging vir die volhoubaarheid van ons hele bedryf,” sê Basson.
Terwyl groter kelders noodplanne het wat insluit die huur van addisionele stoorspasie, die toekenning van ‘n gedeelte aan druiwesapkonsentraat en die verlaging van pryse (hoewel nie in die langtermyn volhoubaar nie), kan dit vir kleiner produsente baie moeiliker wees om bergings- en verwerkingskapasiteit te skep.

Rico Basson

“Stadig-bewegende voorraad weens laer verkoopsvolumes, kontantvloei-uitdagings en die noodsaaklikheid vir addisionele oorbruggingsfinansiering teen ʼn koste sal die volhoubaarheid van die bedryf onder geweldige druk plaas. Dit sal noodwendig daartoe lei dat baie ondernemings en boerderye gaan sluit, tesame met ongeveer 27 000 werksverliese wat die kwesbaarste in ons gemeenskappe in armoede sal dompel,” sê Basson.
Vinpro het onlangs ʼn dringende aansoek by die Kaapse Hooggeregshof ingedien om dringende tussentydse regshulp aan te vra wat die premier van die Wes-Kaap die mag sal gee om van die algehele en landswye verbod af te wyk om die verkoop van drank op persele en deur handel in die Wes-Kaap moontlik te maak.
*Die algehele en landswye verbod is intussen gelig en daar geld nou weer ‘n gedeeltelike verbod op drankverkope. “Ons sal ons steeds tot die regering wend vir finansiële verligting om die lewensbestaan van ons 533 wynkelders, 2 778 wyndruifprodusente en 269 000 werknemers in die wynbedryfwaardeketting te beskerm,” sê Basson.

Leave a Reply

error: Content is protected !!