Só lyk Moorreesburg se nuwe hoërskool
Grondwerke vir Moorreesburg se nuwe hoërskool is reeds in volle swang en die skool sal na verwagting teen Junie aanstaande jaar voltooi wees.
Só sê ‘n woordvoerder van die Wes-Kaap se onderwysdepartement (WKOD), Millicent Merton.
Die skool word gebou op ‘n erf (25 360 m² groot) van die provinsie op die hoek van Landbou- en Piketbergweg. Die hoofingang sal uit Landboustraat wees.

“Dit is ‘n gewone hoërskool met ‘n totale gebouoppervlakte van 5036m².
“Die skool is ontwerp om 1110 leerders te akkommodeer en sluit liggaamsoefeningareas (physical teaching /training slabs) in.”
Daar is aanvanklik vir R68,3m, maar dit is nou “ onderhewig aan eskalasie.”


dié courant het vroeër berig nog ‘n woordvoerder van die WKOD, Paddy Attwell, het verduidelik dat die WKOD al ‘n geruime tyd beplan om ‘n nuwe hoërskool in Moorreesburg te bou weens die druk op skole in Malmesbury wat deur baie leerders van Moorreesburg bygewoon word.
“Baie leerders – veral in graad 10 tot 12 – wat in en om Moorreesburg woon, reis na skole in Malmesbury en Piketberg met die vervoer wat deur die WKOD aangebied word.
“Hierdie vervoer is duur vir die departement en tydrowend vir die leerders wat andersins hul tyd aan skoolaktiwiteite of studie kan wy. Dirkie Uys, die enigste hoërskool op Moorreesburg, is vol.”





Die burgemeester van die Swartland Munisipaliteit, Tijmen van Essen, het ook destyds die nuwe skool verwelkom en gesê dit sal dit net soveel makliker maak vir leerders van Moorreesburg en omgewing en ook die las verlig op ander skole waarheen die kinders tans pendel.
Aanvanklike planne om ook ‘n koshuis by die skool te bou, is eers uitgestel. Die terreinplan van die nuwe skool maak voorsiening vir ‘n toekomstige koshuis op die terrein.

Debbie Schäfer, die Wes-Kaapse Minister van Onderwys, het gesê: “Die nuwe skool is al ‘n geruime tyd aan die kom, maar sal aansienlik bydra tot die voorsiening van gehalte-onderwys in die Moorreesburg-omgewing. Ons sien uit daarna om ná die voltooiing leerders by die skool te verwelkom. ”