Ek wil kyk na onse mense – rdl. Matthyse
Die Swartland het ‘n nuwe munisipale raadslid ná die onlangse bedanking van raadslid Lisolomzi Mfutwana.
Sandra Matthyse woon op Darling en beskryf haarself as ‘n “politikus. Al die pad.”
dié courant het by dié nuwe proporsionele raadslid gaan gesels.
“Ek is ‘n gemeenskapsmens en kom al jare in die politiek.

“Jy kan maar sê tannie. Ek is gebore in Darling in Desember 1960 en het nou net 60 geword.”
Matthyse, ‘n nooi Esau, het ‘n paar jaar gelede by die EFF aangesluit.
Ek was by die DA. Van die DA af het hulle my kop bietjie laat swaai. Toe gaan ek ANC toe.”
Met die vorige munisipale verkiesing was Matthyse op die EFF se porporsionele lys en met Mfutwana se bedanking het sy nou dié party se proporsionele raadslid in die Swartland geword.

Partye begin reeds gereed maak vir die komende munisipale verkiesing waarvan die datum nog nie bekend gemaak is nie.
Matthyse was een van nege kinders. “My ma was vroeg al ‘n weduwee.
“Ons was drie meisies en ses seuns.”
Sy en drie broers leef nog. Hul een broer, die bekende kunstenaar Sandy Esau, is onlangs oorlede, vermoedelik aan ‘n hartaanval.
“Was maar stres ook,” voeg Matthyse by.
Sy gesels oor haar jonger dae.

“Ek het skool in Vooruitsig klaargemaak. As dit nou grade is, is dit nou graad 7.”
Sy woon al dekades in dié huis in 9de laan en onthou ook die politieke partye van destyds. “Ek kom as kind al van die Arbeidersparty af.”
Self het sy heelparty kursusse in verskeie fasette van huishoudkunde voltooi.
“Ek het maar meesal winkelwerk gedoen by plekke soos Spar. En vroeër ook by Darling Textiles gewerk.”
Oor haar visie vertel dié nuwe raadslid haar doel is “om te kyk na onse mense vir dienslewering.
“Ons moet kyk na hul behoeftes en ook hul gesondheid.
“Ook om te kyk na die kleinboere dat hulle tuine het dat daar kos op hulle tafel is.”

Oor die jarelange sprake van ‘n hoërskool vir Darling, sê Matthyse, “ons praat al van 1996 af oor ‘n hoërskool in Darling. En kyk waar is ons nou.
“Die meeste kinders gaan Atlantis toe, maar kinders wil amper nie Atlantis toe gaan nie omdat daar gangsters na die skole toe kom.
“Daarom wil ons ‘n skool hê hier in onse dorp. Die ouers voel nie om hulle kinders in Atlantis te sit nie.
“Onderwys is baie belangrik. My hoof, mnr. Engelbrecht, het daardie tyd gesê: ‘Hulle kan alles van jou steel. Alles kan hulle van jou af vat. Alles, maar jou gelerentheid kan hulle nie van jou af vat nie.’”
Matthyse het 5 kinders. Elton (‘n werktuigkundige), Marelize (‘n polisievrou), Rodney (eienaar van ‘n siviele konstruksie-onderneming), Wendy (sy is werksaam by Bonwit) en Aaron (ook in die konstruksie).
Haar man Niklaas, met wie sy getroud is toe sy 50 was, was by Vooruitsig Primêr werksaam voor hy afgetree het.


*Matthyse is onlangs op ‘n Swartland munisipale raadsvergadering as raadslid ingesweer.
Op dieselfde vergadering is raadsheerskappe aan die speaker Michael Rangasamy en Monde Stemele toegeken.
Dié eretitel word met sekere kriteria aan raadslede toegeken vir die lewering van buitengewone verdienstelike dienste.