Reuse Darling-windlaaiers wink op horison
‘n Windenergieprojek op die heuwels tussen Darling en Yzerfontein word reeds jare beplan en daar is nou weer ‘n gewysigde plan om met dié projek voort te gaan.
Volgens die jongste plan sal Moyeng Energy (Edms.) Bpk se 33 reuse-windlaaiers nou bykans 30 meter hoër wees en ongeveer 215m hoog staan.
Die vier bestaande windlaaiers van die eerste windturbineprojek nader aan Yzerfontein wat 13 jaar gelede opgerig is, is elkeen 85m hoog.
Luidens die jongste verslag (deel twee wysigings vir omgewingsmagtiging) wat vir goedkeuring voorgelê word, sal 9 van die windlaaiers van die Rheboksfontein-windenergie-aanleg aan die noordekant van die R315 opgerig word.
Die res sal op die heuwels op plase suid van die pad staan. Dit strek tot agter !Khwa ttu.
Die wysigings behels dat die turbines se rotors (waaiers) nou 170m in deursnee sal wees in vergelyking met vorige planne van 126m.
Die voorgestelde torings self word ook van 120m na 130m verhoog.
Daar is ook nou weggedoen met twee windlaaiers en die plan is om dan 33 op te rig en nie meer 35 nie.
Daarmee saam volg ook ‘n verhoogde maksimum uitsetkapasiteit: van 129MW tot 140MW vir die fasiliteit.
Dit is ongeveer dubbeld die 65MW wat die Umoya-windplaas met 37 turbines by Koperfontein lewer. Dié turbines is 145m hoog met torings van 95m.
Met die jongste aansoek wil Moyeng die geldigheid van vorige goedkeurings met 5 jaar verleng.
Luidens die verslag het turbine-tegnologie aansienlik verbeter sedert die oorspronklike omgewingsimpakstudie in 2012.
Die verslag toon aan dat die konstruksie van die aanleg ongeveer 18 maande sal duur.
Ook dat daar geen direkte impak op inheemse flora sal wees nie.
Die skrap van die ander twee windlaaiers uit die plan, is gedoen om die potensiële impak op avifauna te verminder.
Die moontlike impak op die pelikaanbevolking op Dasseneiland is ondersoek.
In dié studie is aangetoon dat die bevolkingsgetalle reeds aan die daal is en van die huidige ongeveer 800 sal daal na ongeveer 250 in die jaar 2063.
Die windernergiefasileite sal na raming wel ‘n vinniger afname tot gevolg hê en daar word geraam dat met die gewysigde planne die fasiliteite nou tot 6 pelikaansterftes per jaar kan lei en nie meer 22 soos voorheen aangetoon nie.
Die afname in die voorspelde sterfte is grotendeels die gevolg van die herontwerp van die uitleg om turbines weg te skuif van gebiede met ‘n hoër pelikaanvlugaktiwiteit. Meer inligting is beskikbaar by: https://www.erm.com/rheboksfontein-eia