Swartland ‘kan baat by ‘n Kaapse Lanseria’
Vyftien jaar gelede was daar planne vir ‘n kommersiële lughawe in die Swartland. Verskeie plaaslike mense het ook geld daarin belê, maar van dié planne het niks gekom nie. Nou is daar weer planne vir ‘n streekslughawe op die voorstoep.
As die nuwe eienaars van die Fisantekraal-vliegveld, nou bekend as die Cape Winelands Airfield, hul sin kry, word dit die ‘Kaap se Lanseria’.
So sê sakeman en mede-eienaar Rob Hersov.

Dié vliegveld met vier aanloopbane is in 1943 gebou en is naby die vierrigtingstop met die kruising van die Stellenboschpad (R304) en die R312. Dit is sowat 40km vanaf Malmesbury.
Kiewiet van Rooyen, bestuurder van Swartland Toerisme, sê so ‘n lughawe kan baie vir toerisme in die Swartland en Weskus beteken.
“Dit is soms ‘n nagmerie om by Kaapstad Internasionaal te kom en hierdie beplande lughawe sal net soveel nader wees. Die toerismeplekke in die Swartland sal groot baat vind by so ‘n lughawe. Baie mense sal dit verkies.”
dié courant het met die projekbestuurder by Cape Winelands Airfield (CWA), Michael Wilkinson, gesels.
Mense moet besef dat Lanseria omtrent 90% op algemene nie-kommersiële lugvaart en kleiner vliegtuie fokus, sê hy.
Die langtermynplan is om later kommersiële vlugte by CWA te akkommodeer, maar eers wil hulle die vliegveld uitbou om die streek se nommer 1-bestemming vir alle kleiner vliegtuie te wees.


“Dit is opwindende tye wat voorlê. Ons is in die proses om die Wes-Kaap en algemene lugvaart ‘n pragtige nuwe tuiste te bied.”
Gepols oor die totale koste van die ontwikkelings wat beplan word, bevestig Wilkinson dat dit miljarde rande kan beloop.
“Ons het 150 ha en 4 aanloopbane.”
Wilkinson sê hulle gebruik tans twee (900m en 700m) van die aanloopbane en wil probeer om voor die einde van die jaar dié twee van ‘n nuwe oppervlak te voorsien.

Die twee kruis mekaar teen ‘n hoek van 90 grade, wat veilige opstyg- en landingsomstandighede moontlik maak, ongeag die windrigting, sê Wilkinson.
Die plan is ook om die derde en langste aanloopbaan van 1500m te herontwikkel.
“Onthou ‘n aanloopbaan en beton het maar ‘n leeftyd,” sê hy.
Volgens hom is die plan om oor die volgende 5 jaar ook ‘n groot aantal nuwe loodse vir vliegtuie te bou.
“Ons beplan om nie te veel hulpbronne aan bestaande loodse te spandeer nie, omdat ons op die punt staan om 200 fantastiese nuwe loodse van verskillende groottes te bou met behoorlike “taxibane” en ‘n gemeenskaplike klubhuis, winkels, restaurant asook lugvaartopleidingsinstansies en vir die instandhouding van vliegtuie.
‘n Lughawe bring ekonomiese energie – Scholtz
‘n Lughawe is “soos ‘n hospitaal. Dit bring ‘n klomp ekonomiese energie.”
Só reageer Joggie Scholtz, munisipale bestuurder van die Swartland Munisipaliteit, oor die planne met die ou Fisantekraal vliegveld.
Die nuwe eienaars wil die vliegveld (met vier aanloopbane), nou bekend as Cape Winelands Airfield, in ‘n ‘Kaapse Lanseria’ omskep om veral die streek se hoofbestemming van kleiner vliegtuie en huurvlugte te word.

“Ek sal opgewonde wees oor so iets. Uiteraard met enige groei kom daar ook negatiewe aspekte waar ‘n ou ook net pro-aktief moet probeer optree.
“Maar die positiewe oorheers die negatiewe.
“Enigiets binne ons gebied of net op ons voorstoep het ook ‘n impak op ons en ons moet kyk watter byvoordele dit vir ons kan inhou.”

• Hersov, mede-eienaar van die CWA, is ‘n miljardêr en kleinseun van Anglovaal-medestigter Bob Hersov. Hyself het in 1985 oorsee verhuis en ná 31 jaar in 2016 teruggekeer na Suid-Afrika en woon nou in Bishops Court.
Hy is ‘n die stigter van verskeie internasionale maatskappye. Een daarvan was Marquis Jet Europe wat later aan Warren Buffett verkoop is.
In een van sy jongste projekte het hy met ‘n blanko-tjekmaatskappy meer as $300 miljoen gewerf vir beleggings in goud.
Lugvaart is in Hersov se are met sy pa, Basil, wat ‘n vegvlieënier was in die Tweede Wêreldoorlog.